“Die sestiende?” vra sy.

Ja, die sestiende, hoekom?

“Sê die sestiende vir jou iets?”

Hoekom sal die sestiende nou vir jou iets wil sê? Maar jy bedink jouself (instinktief) voor jy dit hardop uiter. Die sestiende . . .? Die sestiende . . .?

Dan onthou jy skielik: “Dis ons troudag! Natuurlik!”

O, Donderdag! hoe kón jy dit vergeet? Dis tog Julie en jy onthou die reën kon die vuur van jul liefde nie blus nie. Die onthaal was uithaler en die wittebrood witwarm, die son het julle nooit gesien nie. Hoeveel jaar is dit nou al? Dit voel soos gister.

“Wag,” sê jy. “Vanaand maak jy nie kos nie, ek neem jou uit vir ete. En net môre – nét môre – koop ek vir jou ’n present, ’n grote!”

Jy wonder hoekom sy nie getroos lyk nie, net broos. Sy gaan maak vir haarself roereier op toast en jy vind later oorskiet-hoender in ’n Tupperware-bakkie in die yskas vir jouself. Daar’s julle uiteet ook daarmee heen . . . en jy’s seker die res van die aand gaan ook nie ’n herdenking van enige aard of geleentheid wees nie.

Die lewe is nie regverdig nie, dink jy. Dis mos nie asof jy doelbewus, aspris vergeet het nie, jy’t maar net nie onthou nie, dis al. Want toe jy weer sien, toe vra sy watter dag is dit en toe's dit te laat.

En dit was juis so ’n wonderlike troue, onthou jy, al het die weer nie saamgespeel nie. Jy wou al in Februarie trou, dis gouer as Julie, maar sy en haar ma het tyd
nodig gehad vir al die voorbereidings. (Haar ma het natuurlik gehoop die hele ding reën op die nippertjie uit, en toe frizz haar hare, sy wou amper nie stilstaan vir ’n foto nie.)

Jy’t al selfs eenkeer aangebied om wéér met haar te trou sodat julle ’n datum kon kies wat ’n mens makliker kan onthou, sê nou maar naby Valentynsdag of so, want winkels en advertensies en bloemiste maak seker jy sal nooit Valentynsdag vergeet nie. (Jy wou in elk geval reeds in Februarie trou, onthou?)

“Ek kan verduidelik,” probeer jy. Jy kan verduidelik? herhaal sy met hoë, woordelose wenkbroue.

“Hy kan verduidelik,” sê sy vir die kat, wat die vertrek terstond verlaat.

Ja-ja. Jy sien, toe ek vanoggend wakker word, toe onthou ek met groot nostalgie en ’n glimlag dis die sestiende, Donderdag die sestiende Julie, nè? En toe wil ek op jou omrol om jou geluk te wens, maar toe slaap jy nog so lekker, toe dink ek nee, wag, ek sal jou later verras, toe raak die dag baie besig en toe . . . Ek het nog vir myself probeer uitwerk hoe lank ons getroud is, toe kom ek uit by honderd jaar, toe dink ek, nee, dit vóél nes honderd jaar. Of . . . e . . . soos gister? voeg jy by.

“So, as ’n mens mooi daarna kyk,” som jy op, “hét ek ons troudag onthou . . .” Die kat loer versigtig om die kosyn om die uiteinde te hoor. (“Moenie jy nou tussenin kom nie,” brom jy vir die kat.)

“Dis net dat . . .” verduidelik jy verder.

Sy loop ’n draai deur die huis en terug, dit lyk asof daar vuurvliegies by haar ore uitkom: “Dis net dat dit nie ons troudag is nie,” voltooi sy die sin.

Nie? Nou hoe dan?

“Dis my verjaarsdag!”

*Volgende maand: Hoekom mans belangrike datums vergeet.