“Wat’s dit?”

(Sien, baie vroue weet nie eens daarvan nie al is die tegniek so oud soos die oudste berge in Indië, bekend nog lank voor die ontdekking van haartangetjies, genaamd tweezers, om jou wenkbroue te pluk, vra enige vrou.)

“In Afrikaans is dit seker Indiese draadwerk,” verduidelik jy. “Vroue is immers vol draadwerk, dan nie?”

Sy ignoreer dit en vra: “Nou hoe werk dit? Sê.”

Eenvoudig, en nogals vindingryk, moet jy toegee: Die vrou uit Indië vat ’n doodgewone garedraadjie en draai hom behendig dubbel en om en om – so 8 tot 12
keer – sodat twee langwerpige lussies vorm, een in elke hand, amper soos twee traandruppels (hoe gepas, want haar oë gaan nou-nou begin traan). Waar die punte van die traandruppels in die middel bymekaarkom, het dit ’n spiraal gevorm met ’n los draad wat afhang, so vinnig, jy’t nie mooi gesien waar die los draad vandaan kom nie.

Dié byt sy tussen haar tande vas.

Deur haar vingers nou beurtelings oop en toe te maak, skuif of gly die spiraal heen en weer. Sy hou die spiraal teen jou wenkbrou, sekuur waar sy wil pluk, en die glyende spiraal vang die haartjies vas, heen en weer. (Die een wat dit uitgewerk het, verdien ’n Nobelprys vir wenkbrou-tegnologie, reken jy.)

En nét so pluk die vrou die haartjies uit – letterlik rytjie vir rytjie, nie een vir een nie, dis hoekom dit so vinnig gaan – deur eenvoudig die draadjie tussen haar tande met haar kop ’n pluk te gee. Haar ken werk in en uit, in en uit soos sy pluk en haar kop knik-knik heeltyd agterna, dit lyk of sy ja, ja sê al het niemand haar iets gevra nie.

Amper soos ’n koggelmander op ’n klip.

En op die stoel sit sy, die geplukte, met haar kop agteroor terwyl sy haar ooglid met haar linkerhand toehou, haar ander hand op haar voorkop om die vel bokant haar oog effens styf te trek. Die vrou het eers ’n bietjie poeier op die wenkbroue gesit om die hele operasie gladder te laat verloop. Nou’s die wenkbroue onaardig wit. (Hulle sal nou-nou onaardig rooi wees van die uitpluk, dis ’n kleurryke besigheid.)

Party vroue sluk vooraf ’n Panado.

Daar traan haar oë nou, maar dis in ’n oogwink of drie verby. Skaars vyf minute, daardie vrou gaan so flink te werk, jy wou sê sy’s skoon vlugvoetig met haar
hande. (Dit voel natuurlik langer vir die een wat sit, die geplukte.)

Agterna smeer sy ’n bietjie plantekstrak-olie aan, soos papaja, om te help vir die rooi en die seer. Die botteltjie sê “Suero Debilitador Del Vello”, in
Afrikaans seker iets soos: “Jy maak my aspris seer, maar wat de wiel.”

Seer aangenaam, kan jy maar sê.

Dis ook nie onbekostigbaar duur nie. Wenkbroue: R40. Wenkbroue plus bo-lip: R50. Wenkbroue, bo-lip plus ken: R55.

Maar dit kom met ’n vriendelike waarskuwing: Moenie dit by die huis probeer nie!

Jy moet weet wat jy doen. In Indië loop hulle ’n kursus van minstens ’n maand om die tegniek te bemeester. (Doen navraag in jou omgewing of daar iemand is wat die kuns ken ... ’n Mens kan dit nie sommer om elke hoek en draai laat doen nie.)

Dié soort draadwerk is dus vinnig, veilig en skoon, dit neem nie jou boonste vel-lagie saam soos waks nie en dis minder seer, hoewel nogal seerder as met ’n tweezer, erken sy. (Sluk ’n Grandpa.) Dis ook baie akkuraat en die wenkbrou groei nie so vinnig terug nie omdat elke haartjie feitlik reddeloos ontwortel word, nie
net onthoof nie.

Dis die voordele, dan hou dit in elk geval net drie weke.

Jy sit nog so voor die TV, toe sê sy: “Sien? Dit werk! Drie weke is lank genoeg vir my.”

Sy sit haar tweezer neer en wikkel haar wenkbroue in jou rigting.

Nes Brooke Shields ...