Romantiese musiek met onheilspellende elemente word gehoor. Kamera beweeg deur donker, leë straatjies. Sterk wind waai, hortjies kap teen mure. Toneel verander na ingang van dorpie. Skoorstene word gesien teen horison. Nabyskoot van herberg se naambord wat swaai in wind. Voetstappe word gehoor. Nabyskoot van stewels wat beweeg oor klipplaveisel. Wyer skoot onthul wese met mantel. Word van agter gesien. Kop bedek met ’n kap. Wese verdwyn tussen geboue.

Só begin die draaiboek van menige kunsrolprent wat al ’n toekenning gewen het. Só lyk die openingstoneel van elke fliek wat nog ooit gehandel het oor die magiese, die onmoontlike of (vir sommige) die verregaande.

In die rolprent Chocolat stap ’n jong vrou en haar dogtertjie, geklee in bloedrooi mantels, ’n klein dorpie binne. Hulle vestig hulself in ’n gehawende winkel met ’n
woonstelletjie bo-op. Ten spyte van alle teenstand – die grootste hiervan is vooroordeel – betower hulle die kleinsielige inwoners met handgemaakte sjokolade, bied lafenis aan moeë siele en red verhoudings.

In Babette’s Feast klop ’n geheimsinnige wese met ’n lang swart mantel op ’n stormagtige nag aan die voordeur van ’n klein huisie. Só begin die verhaal van ’n vrou wat met haar geheime en verbysterende kookvernuf die lewens van die bygelowige en benoude inwoners verander.

In enige historiese sage, Jane Austen-drama, Harry Potter-aflewering, van Hocus Pocus tot Queen Margot, van Rooikappie tot Sneeuwitjie, in enige literêre meesterstuk of kinderverhaal wat nog ooit die verbeelding aangegryp het of die verkramptes ontstig het, is die bohaai nog altyd begin deur ’n wese met ’n mantel, ’n vreemdeling met ’n eksotiese aksent, onverklaarbare vermoëns of geheimsinnige verlede.

Die meeste van ons is skrywers of digters en bly ongeduldig. Ons het nie die tyd om te wag vir die waarheid of die werklikheid nie, ons wil self die verhaal voltooi. ’n Vreemdeling gee ons die geleentheid, in verwondering, in vrees, met afguns of met hoop sal ons die prentjie kleur, die verlore stukkies opspoor en die wese skep wat ons op daardie oomblik nodig het. Een van die tipiese eienskappe van ’n vreemdeling is dat hy of sy jou nie ken nie. Hy is nie bewus van jou tekortkominge nie, hy was nie teenwoordig tydens jou grootste misstappe en persoonlike rampe nie, hy is nie moeg vir jou grappies nie, hy het nog nooit voorheen jou gunsteling-uitrusting gesien nie en sal moontlik met bewondering of goedkeuring daarna kyk. Hy weet nie jou haarstyl is al dekades lank dieselfde nie en kan jou dus werklik raaksien. Hy weet nie dat jy lui is of net oorweldig nie, hy weet nie dat jou hartstog en passie lankal reeds eenkant geskuif is ter wille van daaglikse oorlewing nie, hy glo wat jy sê, jy kan hom oortuig dat jy wel nog planne het, dat jy inderwaarheid druk besig is met die vervulling van jou ideale.

Die wonderlikste eienskap van ’n vreemdeling is dat hy of sy perfek is. Daar is wel geheime en vrae, maar geen foute. ’n Vreemdeling is skielik weer jou eerste liefde, eerste onderwyser, eerste predikant, beste buurman, liefste niggie, dierbaarste oom, slimste spreker, gunstelingskrywer, mooiste akteur en vriendelikste bankbestuurder. ’n Vreemdeling klop aan jou deur, verdwaal in jou straat of daag op vir jou vergadering en is – vir so lank as wat jy dit mag nodig hê – die spieël wat jou laat staar na jou verlede, jou binneste, jou soektog en jou droom. Die vreemdeling gesels met jou in ’n stemtoon wat jy of jou geliefde verloor het, ’n geduld wat lank reeds verwyn het en ’n respek wat broodnodig is.

’n Vreemdeling is nie noodwendig jou nuutste romanse nie, hy of sy is dalk ’n nuwe blik op jou geloof, ’n nuwe asem vir ’n gestorwe ideaal, ’n hupstoot te midde van ’n krisis, ’n glimlag op ’n grys dag, ’n herinnering aan ’n jonger self. Ook die herinnering dat jyself iemand anders se vreemdeling is en elke dag raakgesien word.