Hierdie skrywer weet hoe om fassinerende karakters te skep. Ellie McKenna, haar hoofkarakter, trek jou vinnig in haar doen en late in.

Jy kan nie anders as om betrokke te voel by haar nie. Nadat ek Dubbelspel gelees het, kon ek nie wag om te sien wat verder in Ellie McKenna se lewe gebeur nie. In ’n onderhoud met Wilna Adriaanse oor Dubbelspel het sy die volgende verklap oor wat vir Ellie voorgelê het in haar volgende boek:

“Dinge gaan vir Ellie ’n bietjie warm word. Nick is steeds op die toneel, soos die meeste van die oud-kollegas. Albert is ook nog daar. Wie op die ou end heelhuids daar gaan uitkom, sal ek ook maar nog moet sien.”

In Eindspel (Tafelberg, R270), Wilna se jongste boek, word my nuuskierigheid bevredig oor Ellie en wat nou in haar lewe gebeur. Maar ook oor die enigmatiese Nick Malherbe, sekuriteitshoof van die Allegretti-familie en hoe sy pad weer met Ellie s’n kruis. Die verhaal draai om die ontvoering van Clara Veldman en die verdwyning van Enzio Allegretti. Mens moet enduit lees om te sien presies hoe die twee gebeure met mekaar verband hou en hoe Ellie en Nick saam moet werk om die raaisel op te los. Sy moet haar rustige lewe in die platteland, waarheen sy gegaan het om te herstel van haar tyd in die polisie, verlaat om in hierdie boek weer klandestien vir die polisie te werk aan hierdie operasie. Ellie merk op dat die gebeure soos ’n legkaart is en dat dit net stukkie vir stukkie inmekaar gepas kan word. Van die legkaartstukkies hou verband met dwelm-, perlemoen en renosterhoringsmokkelary, asook geldwassery. Hoe ongelooflik die gebeure ook al klink wanneer jy dit lees, is dit egter ’n ware refleksie van misdaadgebeure in Suid-Afrika en al te realisties. Dis ’n komplekse verhaal met ’n boeiende spanningslyn en baie sterk karakters om die storie te dryf. Selfs die kleiner karakters soos Happy en Brenda laat ’n blywende indruk by die leser. Adriaanse het die vermoë om verhale te skryf wat die leser hoopvol hou dat daar nog ’n volgende aflewering sal kom oor die doen en late van haar karakters.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Scattering, Lauri Kubuitsile (Penguin, R235)

Dis 1899 en die Anglo-Boereoorlog begin. Riette is een van die Afrikanervroue wat glo dat die oorlog nie tot by haar plaas sal kom nie. Sy bestuur die plaas saam met haar twee stiefdogters en droom oor die dag wanneer sy van die plaas kan vlug om ’n verpleegster in Kimberley te word. As die oorlog verby is, sal sy haar stiefdogters kan agterlaat. Maar Kitchener se verskroeide-aarde-beleid veroorsaak dat Riette en haar bure se plase en diere heeltemal uitgeroei word. Die vrouens en kinders word in konsentrasiekampe geplaas en hier kry Riette uiteindelik die geleentheid om haar liefde vir verpleging uit te leef. Toe die oorlog in 1902 eindig, het Riette niks in Suid-Afrika oor nie.

Dis 1904 en die Duitse regering van Suidwes-Afrika (Namibië) gee ’n bevel wat lei tot die moord en teregstelling van die Herero’s. Duitse soldate verdryf die Herero’s van hul land en soos in Suid-Afrika met die Britse soldate, bly daar niks van die plase en diere oor nie. Die Herero’s word die woestyn ingedryf en die wat nie vermoor word nie, moet in werkerskampe probeer oorleef. Tjipuka weet dat sy alles in haar mag sal doen om te bly lewe. En as haar paaie onverwags met Riette s’n kruis word hulle altwee ’n kans op genesing gegun.

Hierdie roman is wel deurdag en ’n briljante verwewing van die omstandighede wat aan die begin van die 20ste eeu die suide van Afrika heeltemal verander het.  - Antoinique van Staden

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The girl from Simon’s Bay, Barbara Mutch (Allison & Busby, R290)

Hierdie verhaal is ’n kombinasie van ’n liefdesverhouding, vriendskappe en wêreldgeskiedenis en speel af in ’n tyd voor apartheid, die Tweede Wêreldoorlog en te midde van apartheid.

Die hoofkarakter, Louise Ahrendts, is ’n vasberade en doelgerigte karakter wat jou vinnig jaloers laat voel met haar gedrewenheid. Louise droom van jongs af om bo haar omstandighede uit te styg – al het sy reuse-waardering vir die rol wat haar pa, ma en die gemeenskap in haar lewe speel.

Louise se beste vriend en eerste liefde stel haar diep teleur. Hoewel gemeenskapsarmoede en slegte gesinsomstandighede meestal die skuld hiervoor moet kry. Louise kry dit reg om as verpleegster te kwalifiseer, iets wat nie in daardie tyd van Suid-Afrika se geskiedenis vir haar ras, geslag of inkomstegroep algemeen was nie. Sy kies om haar werk haar eerste prioriteit te maak en dit is juis hierdie liefde vir haar werk wat sorg dat sy haar sielsmaat, ’n beseerde Britse vlootsoldaat ontmoet.

Die getroue en hardwerkende Louise vertel onverwags ’n leuen om die liefdesverhouding te red. Hoewel Louise en haar geliefde gekonfronteer word met moeilike omstandighede kry hulle dit reg om mekaar tog te sien.

Die verrassing lê in die sielsmaat se liefde wat vir Louise verligting bring op ’n heel ander manier as wat sy verwag het en ook op meer as een wyse.

Hierdie liefdesverhaal is beslis nie ’n gewone een nie. Daarvoor sorg die mooi beskrywings van die oorlogskepe, hospitale, die Wes-Kaapse natuur en gemeenskapstradisies. – Yolandi Jordaan

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Summer at Shell Cottage, Lucy Diamond (Pan Books, R172)

Dis weer tyd vir die jaarlikse see-vakansie by Shell Cottage. Maar gaan die Tarrants dit hierdie jaar kan doen sonder hul geliefde Alec?  Bekende skrywer Alec Tarrant sterf skielik aan ’n hartaanval. En skielik lyk dit asof die gom wat die familie aanmekaar gehou het weg is en hulle dalkies net inmekaar mag tuimel. Die minuut wat Olivia, Alec se weduwee, haar voete oor die drumpel sit by Shell Cottage word sy gekonfronteer met die geheime lewe wat Alec gelei het waarvan sy absoluut geen benul gehad het nie. Olivia is teen die planke wanneer die res van die familie ’n week later opdaag.  Alles is ook nie pluis aan huis van Robert en Freya, Alec en Olivia se twee kinders, nie. Hulle albei is besig om te vou onder druk vanuit heel verskillende areas in hul lewe.  Maar soos met alles wat onder druk verkeer, ontplof hierdie scenarios en moet dit opgelos en verwerk word.  En so word dit ’n baie onvergeetlike vakansie vir hulle almal. Hulle besef ook dat hoe lief hulle ook al vir Alec was dat die lewe aangaan, dat niemand perfek is en dat vergifnis bevrydend is. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Met Liefde wat saamgaan en ander stories, Annalise Wiid (Lux Verbi, R185)

Met Liefde Wat Saamgaan En Ander Stories is ’n boek  met Christelike  stukkies uit ’n ander invalshoek. Dit handel oor die liefde van God  wat sigbaar is in die daaglikse lewe van mense en in die lewe van Hanna (Samuel se ma), Eli (vader van Hofni en Phineas) en Samuel. Die “laslappies” is persoonlike staaltjies van mense wat die skrywer se pad gekruis het of die skrywer self.

Die staaltjies word aangevul met gedigte, e-posse en liedjies. Agter in die boek is ’n uitgebreide bibliografie wat lesers die geleentheid gee om gedigte en liedjies wat in die boek genoem word te gaan herlees. As mens deur die boek lees verander die name in die boek na mense. Liefdeslaslappiesgoed laat my net weereens besef dat Hy besig is om die laslappiekombers vir elkeen se lewe te maak. Soms as mens moedeloos voel en die lewe is nie meer ’n lied nie, raak jy vasgevang in die “garings” van die lewe. Eendag sal ons wel die mooiste lappieskombers sien wat deur Hom vir ons gemaak is. – Yvette Bezuidenhout