Zane, Campbell (19), Connor (16) en Micah (4)

Liewe Campbell*

"As my oudste kind en enigste dogter wil ek net sê hoe trots ek op jou is. Jy was – en is – nog altyd baie eiewys en onafhanklik, ’n trek waarop ek soms trots was, maar wat my ook woedend gemaak het. Maar ek weet dit beteken jy is bewus van wat jy uit hierdie lewe wil hê en dat jy mense nie maklik oor jou gaan laat loop nie. Nes jou ma!

Ek is ook trots – en woedend – dat?jy besluit het om in jou pa se voet-spore te volg en drama as loopbaan te kies. (Ai, het jy niks van my stryd in die bedryf geleer nie?)

Nietemin, ek weet jy gaan jou hart volg, of dit nou in my voetspore gaan wees en of jy jou eie paadjie gaan loop. Ek is lief vir jou, wat jy ook al doen.

* Campbell 19 jaar oud.

Liewe Connor*

Jy is my tweede kind en oudste seun. Ek onthou nog die dag toe ek jou die eerste keer vasgehou het, pas ná jou geboorte. Ek was so trots! En is nog steeds. Ek wil vir jou sê jy moet onthou dat jy nie net my seun is nie, maar ’n seun en ’n kind van God. Guns is met jou. Jy hoef nooit te voel jy moet iets doen om my aandag of guns te wen nie. Jy het dit gewen toe ek jou die eerste keer gesien en in jou oë gekyk het.

Alhoewel ’n pa veronderstel is om sy kind sy identiteit te gee, wil ek noem dat jy jou eie mens is, maar ook God se kind. Gaan wees die beste persoon wat jy kan wees, sonder skroom of verskonings. En onthou, jou pa is lief vir jou.

* Connor is 16 jaar oud.

Liewe Micah*

My laatlammetjie en kind van my regterhand! (Ben-ja-min.)

Jy was ons present vir ons ou dae, glo ek. Jy maak dan dat ek jonk voel! Jou energie en joie de vivre is aansteeklik en kosbaar. En tog is daar ’n kalmte as ek in jou oë kyk.

Ek sien jou suster se “temperament” en “eiewys-houding” in jou glimlag, stout en liefdevol terselfdertyd.
Micah, soos jy my hart gesteel het, gaan oorwin die daaglikse uitdagings wat oor jou pad sal kom met deernis en liefde, vol inspirasie vir die prys wat voor jou lê. Hou jou kop hoog. Volhard tot die einde! Jy het jou pa se goedkeuring, sy hart en liefde.

* Micah is 4 jaar oud.

I love you,

Jul pa,

Zane Meas

In die Februarie 2013-uitgawe van SARIE (vanaf 21 Januarie 2013 op die rak) skryf Jay en Margit Meyer-Rödenbeck ook briewe aan hul kinders.