Ons gesels met oudpres. Nelson Mandela se persoonlike assistent Zelda la Grange in die Maart 2017-uitgawe van SARIE. Hier volg ’n kort uittreksel.

As motiveringspreker is Zelda la Grange wêreldwyd gesog en sover is sy al bespreek om vanjaar Frankryk, Nieu-Seeland, Nederland en Australië te besoek.

Sy gaan ook by SARIE se fees in Maart in die Atterbury-teater in Pretoria een van haar inspirerende praatjies hou. Die halfuur lange praatjie is gebaseer op haar boek Goeiemôre, Mnr. Mandela (Penguin Random House, 2014), wat nou al in 13 tale vertaal is – die mees onlangse een in Japannees.

“Dis beslis nie op die vlak van Deon Meyer nie, maar dis seker nie sleg vir ’n Afrikaanse boeremeisie se storie nie!” lag sy.

Hollywood-fliek

Daar word boonop ook nou ’n Hollywood-fliek oor haar boek gemaak. Die voormalige politikus Joe Slovo se dogter, Shawn, wat deesdae in Amerika woon, skryf die draaiboek en die rolverdeling word vir later vanjaar beplan.

Die rolprent word deur Maven Pictures in New York vervaardig en Trudie Styler, Sting se vrou, is ook by die vervaardiging betrokke.

“Dis vreeslik opwindend!” sê Zelda, en klap haar hande saam. “Maar dis ook intimiderend. As jy jou regte verkoop het, het jy nie eintlik meer ’n sê nie. Hulle vra dikwels my opinie, maar hulle hoef ook nie. Ek het wel vooraf gevra dat hulle soveel moontlik plaaslike akteurs in die fliek moet gebruik.”

“Die groot rolle sal natuurlik internasionale name wees om ’n internasionale gehoor te trek, maar verder gaan daar baie Suid-Afrikaners wees en dit gaan ook grotendeels hier verfilm word.”

Kom luister na Zelda la Grange by SARIE se fees op 16 Maart om 10:00 by die Atterbury-teater, Lynwoord Bridge-winkelsentrum in Pretoria. Kry jou kaartjie by Computicket, klik HIER.

SARIEfees A1 poster_ZeldaJohrne

Lees nou

Zelda la Grange: Verandering begin by jouself

Zelda la Grange: Ek vra om verskoning vir kwaai Zelda