Met die 2de aflewering van die Twilight: Breaking Dawn wat binne die volgende 6 maande in Amerika uitgereik gaan word, het Ma Bella, Pa Edward en dogter Renesmee nou vir die eerste keer saam op 'n 'gesinsfoto' verskyn.

Die voorblad van Entertainment Weekly is besig om soos 'n veldbrand oor die internet te versprei en aanhangers oftewel Twi-hards die bewerasies van opwinding te gee.

Die rol van Renesmee, die half-mens, half-vampier dogter van Bella Swan (Kristen Stewart) en Edward Cullen (Robert Pattinson), word gespeel deur die oulike 11-jarige aktrise Mackenzie Foy. Fliekgangers het haar 'geboorte' in Twilight: Breaking Dawn Part 1 gesien, maar in die 2de deel is sy reeds ouer omdat sy, as half-mens en half-vampier, baie vinnig ouer word.

* Twilight: Breaking Dawn Part 2 begin 16 November in Amerika draai. Hou sarie.com dop vir die Suid-Afrikaanse loketdatum.

Die amptelike plakkaat van Twilight: Breaking Dawn Part 2