Marli Muller (née Lategan)

Hoe my lewensuitkyk verander het
Ek staan steeds verstom oor hoe vreemdelinge ons ondersteun het, al ken hul jou nie en al kry hul niks daaruit nie. Ons elkeen het iets gehad waarin vriende of vreemdelinge geglo het, en dit het my opnuut laat besef dat elkeen so uniek is, en dat jou beeld wat jy uitstraal belangriker is as wat jy dink! Die geleentheid om in die top-10 te kon wees het verseker my selfbeeld goed gedoen, maar terselfdetyd het dit 'n dankbaarheid geskep teenoor mense se goedheid bloot omdat hulle ook in jou goedheid glo. Dit veroorsaak nou nog dat ek elke dag 'n beter mens vir ander wil wees. Ek het ook kosbare nuwe vriendinne gemaak deur die finale stadium van die kompetisie, en ons is steeds in kontak met mekaar.

Waarmee hou ek myself besig?
Ek het intussen getrou met my grootste 'fan'! Ek werk steeds in die korporatiewe wêreld, maar is in die prosses om my eie besigheid te begin waar ek kreatief kan wees en kan rond beweeg saam my man wat 'n vlieënier is.

My raad/gedagtes vir vanjaar se deelnemers?
Gebruik die geleentheid om die ware vrou in jouself te ontdek. Mense soek nie net iemand met 'n mooi gesiggie op 'n voorblad nie, hulle soek iemand wat kan inspireer, wat 'n innerlike krag het en iemand wat ongeag die omstandighede in haar lewe, steeds regop loop met haar fokus steeds op ander. Indien jy nie reeds hierdie eienskappe besit nie, gebruik hierdie kompetisie as 'n geleentheid om dit te vind!  En onthou al die mense wat agter jou staan en in jou glo.

Loubé de Ridder

Loubé de Ridder

Hoe my lewensuitkyk verander het
Een ding wat ek diep in my hart bere na die SARIE-ervaring is dat ‘n mens tot énige iets instaat is. Ek het nooit in my lewe gedink ek sal die top-10 haal nie, veral nie nadat ek na ál die pragtige inskrywings gekyk het nie. Dit het my geleer om geleenthede aan te gryp en op te hou bang wees om myself uit te daag.

Het dit vir my deure oopgemaak?
Ja, ek is genader om modelwerk te doen, maar weens die feit dat my kursus meeste van my tyd in beslag neem kan ek nie 100% vir die bedryf gee nie en kan ek dit slegs deeltyds, en vir die pret, doen.

Is my selfvertroue meer?
Aanvanklik was ek nogal senuagtig vir die top-10-fotosessie. Die gedagte aan ‘n professionele fotograaf, haar- en grimeerkunstenaars, 'n stileerder en al daardie ligte het oorweldigend geklink, maar toe ek voor die kamera gaan sit, was ek in my element. Ek het so gemaklik gevoel.

Waarmee hou ek myself deesdae besig?
Ek is tans ‘n 4de jaar mediese student by die Universiteit van die Vrystaat en kry einde volgende jaar my graad.

Wat is my raad/gedagtes vir vanjaar se deelnemers?
Skryf in sonder om te twyfel! Dalk word julle verras nes ek verras was verlede jaar. Ek dink dit is ‘n fantastiese geleentheid wat SARIE bied vir vroue van alle ouderdomme en só ‘n geleentheid moet ‘n mens verseker nie deur jou vingers laat glip nie. Dit was ‘n wonderlike ervaring (en groot bederf) en ek het ongelooflike mense ontmoet. Dit was so interessant om te sien hoe dinge agter die skerms werk en ook wie die mense agter die skerms is. Die SARIE-span is ongelooflik! Die hele ervaring het my nuwe waardering gegee vir die tydskrif wat elke maand op ons rakke verskyn.

Justine Cloete

Justine Cloete

Hoe my lewensuitkyk verander het
Ek het definitief baie meer selfvertroue. Ek het altyd in myself getwyfel, maar nou doen ek nie meer nie. Ek sal nou enigiets wat my kant toe kom met albei hande aangryp. Ek het baie gegroei as mens na ek vir die top-10 gekies is.

My raad/gedagtes vir vanjaar se deelnemers?
Wees ten alle tye net jouself en moenie nog tyd mors deur skaam te wees nie. Die SARIE-span is wonderlik en die lieflikste mense, daar is nie rede om bang te wees nie. Jy moet bly wees om deel te wees van so 'n kompetisie, want dit sal jou lewe verander. Wees selfversekerd en glo in jouself.

Eileen Kelbrick

Eileen Kelbrick

Hoe my lewensuitkyk verander het
Ek is meer positief oor dinge in my lewe, ek het geleer om meer in myself te glo en dat ek dinge kan beryk wat dalk onmoontlik lyk. Als is moontlik as jy meer geloof en vertroue het. Ek is nou op 'n plek in my lewe waar ek 'n geleentheid soos dié van SARIE se voorbladgesigwedstryd enige tyd weer sal aanpak! Dit was 'n onvergeetlike tyd in my lewe en ek het dit verskriklik geniet om 'n finalis te wees.

Is my selfvertroue meer?
Ek is eintlik vreeslik skaam, maar kan verseker sê dat my selfvertroue baie verbeter het. Veral na al die mooi kommentaar wat ons ontvang het van ons ondersteuners en die SARIE-span! Wie kan nie beter voel oor hulself na so wonderlike ervaring nie!?

Het daar 'n groot geleentheid my kant toe gekom?
Die Get-it (Joburg West), 'n gemeenskapstydskrif, het my genader vir 'n voorblad. Ek was op die  Desember/Januarie-uitgawe se voorblad!

Waarmee hou ek myselfbesig?
Ek werk tans nog by 'n veearts, dis waar my hart lê. As ek nie werk nie probeer ek soveel moontlik die mooi natuur bewonder en geniet. Ek is nie op die oomblik besig met enige modelwerk nie maar ek is wel oop vir enige geleenthede wat dalk oor my pad sou kom. Veral fotografiese modelwerk, wat nog altyd my droom is!

My raad/gedagtes vir vanjaar se deelnemers?
Glo in jouself en dat jy 'n kans staan. Moet nooit opgee as jy dalk nie sou inkom nie, hou aan probeer al is dit iets heeltemal anders. Ek was verseker een van die deelnemers wat gedink het ek staan geen kans nie en ek het top-10 gehaal. Wat 'n wonderlike belewenis! Dankie aan die SARIE-span, julle het als so spesiaal vir ons gemaak. Dit was wonderlik om nuwe vriendinne te maak, elke liewe een was onsettend pragtig binne en buite.

SKRYF NOU IN vir SARIE se VOORBLADGESIG-WEDSTRYD 2012