SARIE VIER FEES OP 70

Die tydskrif het vanjaar 70 geword, en lesers het heeljaar saam verjaardag gevier . . . nostalgies geraak, herinneringe en stories gedeel, selfs ou gunstelingvoorblaaie opgediep en aangestuur. En vir elkeen hou SARIE spesiale betekenis in.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

TANNIE POPPIE GAAN ITALIË TOE . . . EN KUIER BY JAN

Geniet Italië!; See you in Gaiole, Italy; Gooi, Tannie Poppie, gooi!; Have fun, Tannie Poppie, show them how to vastrap; Buon viaggio . . .

Van oral het die geldelike bydraes en goeie wense op die skarefinansieringsplatform Backabuddy ingestroom. En dit alles vir tannie Rosalind “Poppie” van As (63), roosterkoekbakster van Laingsburg, vir wie “oorsee” altyd net ’n droom was. Sy was, trouens, nog nooit buite die Wes-Kaap se grense nie. Maar danksy entrepreneur Stan Engelbrecht van Kaapstad en ruimhartige mense wat deur haar storie aangegryp is, is haar droom bewaarheid – vir die reis van ’n leeftyd.

Stan het die innemende Tannie Poppie ses jaar gelede op Laingsburg leer ken . . . “gelok deur die geur van haar varsgebakte roosterkoeke in die hoofstraat”. Hy’t gevra of sy dit by sy fietsrenne sal maak, en sy’t dadelik deel van die familie geword, vertel hy. Vanjaar het organiseerders van ’n Italiaanse resies op Montagu haar na hul byeenkoms op Gaiole genooi.

Stan het begin geld insamel, en gou was daar genoeg om haar in Oktober vir twee weke die wonders van Italië te wys. Sy’t boonop besigheidsklas gevlieg, danksy ’n opgradering. Haar reaksie? “Wie sou kon dink dat so ’n klein roosterkoekie my so hoog kan laat vlieg?” Die sprankelende Tannie Poppie is selfs al op Instagram, en tot Michelin-sjef Jan Hendrik is onder haar volgelinge! Sy’s juis met ’n ompad terug huis toe nadat hy haar vir aandete by JAN in Nice genooi het. Hier het sy vir sy span gewys hoe om piepklein fynproewer-roosterkoekies te maak. Stan beoog ’n dokkie oor haar lewe.

Bronne: Backabuddy.co.za, @poppievanas, Huisgenoot

Poppie
Annamart van der Merwe en Clementine Mosimane in Poppie Nongena.

REKORDGETALTOEKENNINGS VIR ERFENIS-FLIEK

’n Liefdesbrief aan alle ma’s in Suid-Afrika. Dis hoe regisseur Christiaan Olwagen die fliek beskryf waarmee hy vanjaar by die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, die gehoor betower het. Poppie Nongena, gebaseer op die bekroonde Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert, het 12 toekennings gekry – die meeste nóg deur ’n fliek by die fees. Dit word eers amptelik geresenseer wanneer dit einde Januarie uitgereik word, maar die emosionele reaksie van die gehoor toe die krediete aan die einde van die fliek begin rol het, het dit alles gesê. Dié erfenisstuk is in opdrag van kykNET gemaak.

Tatjana in aksie in die halfeindronde van die 200
Tatjana in aksie in die halfeindronde van die 200 m-borsslag by die wêreldkampioenskap in Suid-Korea

TATJANA SIT HAAR SEGETOG VOORT

Tatjana Schoenmaker beskryf dit as “die malste maand” wat sy nog beleef het – vier* goue medaljes, een silwer, twee Afrika-rekords en ’n Wêreldbeker-rekord.

Met haar silwermedalje in die 200 m-borsslag-eindronde in Gwangjoe, Suid-Korea, het Tatjana op 26 Julie geskiedenis gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword het wat ’n medalje by ’n wêreldkampioenskap in die langbad-formaat wen. Nie eens die Olimpiese medaljewenners Penny Heyns of Marianne Kriel kon dit vermag nie.

Tatjana het aanvanklik nie besef hoe groot die oomblik is nie. “Wanneer ek terugkyk en daaraan dink dat ek ’n medalje vir SA gewen het, begin ek elke tien minute huil,” het sy later vertel. Net ’n week daarna kon die Tuks-student by die Wêreldbekerbyeenkoms in Tokio, Japan, ook ’n Wêreldbeker-rekord agter haar naam skryf met haar eerste plek in die 200 mborsslag. Die volgende dag was nóg ’n goue hare – vir die 100 m-borsslag.

Tatjana erken sy wou eintlik net “so na as moontlik probeer kom” aan haar persoonlike beste. “Ek glo dat jy nie moet wag vir ’n geleentheid nie, jy moet dit skep. As jy ’n baan het, het jy ’n kans.”

Bron: News24, Beeld

* Tatjana het vroeg in Julie twee goue medaljes by die Wêreldstudentespele in Italië gewen. Teen druktyd is Tatjana (swem), Karla Pretorius (netbal, sien bl. 33) en Caster Semenya (atletiek) deur die departement van sport en ontspanning benoem as Sportvrou van die Jaar. Karla is ook as Sportster van die Jaar benoem en die Proteas-netbalspan as Span van die Jaar. Die wenners word op 10 November aangewys.

’n Verheugde Zane Waddell nadat hy eerste in die 5
’n Verheugde Zane Waddell nadat hy eerste in die 50 mrugslag in Gwangjoe was.

GEÏNSPIREER DEUR UBUNTU

Suid-Afrika se medalje-oes by die Wêreld-swemkampioenskap was maar yl toe buiteperd Zane Waddell op die laaste dag van die kompetisie in Gwangjoe, Suid-Korea, vir die 50 m-rugslag aangetree het. En toe verras die oud-Bloemfonteiner almal met ’n eerste plek. Sy wentyd van 24.43 sekondes ’n haarbreedte voor die gerekende Russiese duo Ewgeni Rilof en Kliment Kolesnikof, die wêreldrekordhouer. (Dit was ’n taai resies – met net 0.32 sekonde tussen Zane en die swemmer wat laaste was.)

Toe sy oorwinning insink, het SA se nuwe 21-jarige wêreldkampioen ’n kreet “vol rou emosie” gegee, soos hy ook later sy gemoed beskryf het. En op die podium het sy hart gebars van trots toe hy hoor hoe die hele SA swemkontingent op die paviljoen die volkslied saamsing. Zane studeer al vier jaar aan die Universiteit van Alabama in Tuscaloosa in die VSA, maar SA bly huis – vandaar die Nguni-woord ubuntu op sy borskas, net onder sy hart, verduidelik hy. “Die tatoe is simbolies van my onwrikbare Suid-Afrikaanse gees en passie; dis deels hoekom ek myself so ver kan druk. En dit herinner my altyd waarvandaan ek kom.”

Bronne: IOL, Daily Maveric

DIE BESTE MEDISYNE

Die video het soos ’n veldbrand versprei . . . ’n oop rugbyveld, ’n fietsryer wat ’n netjiese draai gooi, en dan reguit in die doelpale vasry. Gevolg deur ’n moedelose stem: “My f*k, Marelize . . .” Kort voor lank het joernaliste die 19-jarige Marelize Horn van Windhoek opgespoor en haar ma se stemtoon, selfs snaakser as haar dogter se flater, het konteks gekry. Want dié ongeluksvoël “val seker drie keer per dag”. En die rugbyveld was die veiligste plek om te leer fietsry.

Teen daai tyd het #myf*kmarelize al ’n lewe van sy eie gekry, met memes (waarin Marelize vir baie dinge die skuld kry), ’n gedig, liedjies, koffiebekers, T-hemde . . . tot ’n YouTube-video waar ’n klomp jolige Spanjaarde elk hul drie woorde “Afrikaans” praat.

Marelize was sedertdien afsitter by die Kaapstadfietstoer en het danksy Jacaranda FM aan ’n 5 kmbergfietsresies in Gauteng deelgeneem. Sy het wel “’n boom uit die pad geklap” en in die modder geval, aldus News24, maar die resies voltooi!

*Daar is altyd plek vir humor midde-in ’n bietjie malligheid, berig southafrican.com. Soos met Annarette Blom, bestuurder van ’n restaurant in Bloubergstrand, se kleurryke beskrywing terwyl ’n stormwind van 75 km per uur amok maak en hul stoele, dakkappe en tente wegwaai . . . Kortliks, ’n “vet f*kop”, aldus Annarette

Die Ndlovu-jeugkoor op die verhoog van America’s G
Die Ndlovu-jeugkoor op die verhoog van America’s Got Talent.

SA SE HELDERSTE STERRE

“Miljoene glo in ons en ons gee hoop vir miljoene meer. Drome wórd waar.”

Dit was die boodskap van die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo – kort voor hulle vir oulaas die verhoog van die beroemde Dolbe-teater in Los Angeles betree het vir die eindronde van America’s Got Talent, die grootste talentsoekkompetisie op aarde.

Die 25 jongmense van Moutse naby Groblersdal het die beoordelaars en die gehoor se harte verower met hul energieke, vreugdevolle vertonings . . . En al het hulle nie gewen nie, het hul storie mense reg oor die wêreld inspireer. Net hul oudisie-video alleen is al 8 miljoen keer gekyk. Ook pres. Cyril Ramaphosa het getwiet: “Om @ChoirAfrica se finale vertoning op AGT te kyk het my gevul met enorme trots en hoop vir die toekoms. Ons ster skyn altyd die helderste as ons wys wie ons as Suid-Afrikaners is.”

Met hul terugkeer was daar nog goeie nuus: R1 miljoen van die Limpopo-regering én ’n platekontrak van beoordelaar en vervaardiger Simon Cowell. Die koorleier, Ralf Schmitt, wat self die hartsnare geroer het met sy geesdriftige dirigeerwerk, het aan Netwerk24 gesê hulle wil volhoubare werkgeleenthede skep wat vir almal, veral die jonges, nuwe vaardighede leer.

“Hopelik sal dit die hele Moutsegemeenskap ophef.” Die koor is ook saam met SA fluitspeler Wouter Kellerman vir ’n Hollywood Music in Media-prys benoem vir hul video, wat ’n verwerking is van Ed Sheeran se Shape of You en al 4,5 miljoen keer gekyk is.

Karla
Karla in aksie vir die Proteas in die halfeindwedstryd teen Australië by die Wêreldbeker-toernooi

PUNTE VIR VEGGEES

Net twee doele . . . Dis wat vanjaar tussen die Proteas en die eindronde van die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Engeland gestaan het. En al was die eindtelling (55-53) in die guns van Australië, die verdedigende kampioen, het die Suid-Afrikaners baie nuwe ondersteuners gewen met hul veggees regdeur die toernooi.

Min het verwag dat die 5de gekeurde Proteas die top-vier sou haal – SA was immers 24 jaar laas in ’n halfeindronde. Maar in hul laaste groepwedstryd het hulle selfs met Jamaika, nr. 2 in die wêreld, afgereken – hul eerste oorwinning oor die Sunshine Girls in 7 jaar.

Toe die hulpdoelverdediger Karla Pretorius, SA se “ondeurdringbare muur”, as Speler van die Toernooi aangewys is, was die stadion op hul voete. “Al kom ons nie met ’n medalje huis toe nie, weet ek ons het hart en siel in elke wedstryd gesit, en ons kan ons kop hoog hou,” was haar reaksie. Ook in die skare wat hulle tuis verwelkom het, was die minister van sport, Nathi Mthethwa, wat die span later met R500 000 beloon het vir hul vierde plek.

Bronne: Supersport.com, IOL

VREUGDE EN LIEFDE BY ‘CHESSIE’ SE BEGRAFNIS

In September is ’n amptelike provinsiale begrafnis by Nuweland vir rugbylegende Chester Williams gehou, nadat hy onverwags op 49 aan ’n hartaanval oorlede is. Benewens die menigte bekendes en sportlui, het talle ondersteuners – van selfs die Noord-Kaap en Gauteng – vir oulaas hulde gebring aan die geliefde gentleman-Springbok met die “dapper hart van ’n leeu – op en af van die veld”, aldus Morné du Plessis, spanbestuurder van die 1995-Bokke. Pleks van ’n minuut van stilte is ’n minuut van applous vir oulaas vir “Chessie” gehou. Die landsvlag het van sonop tot sonsondergang halfstok gehang by staatsgeboue in Kaapstad.

Bron: TimesLive

Johnny Clegg
Johnny Clegg

DIE ‘WIT ZOELOE’ GROET

“In die week [16 Julie] verloor Johnny Clegg sy jare lange stryd teen kanker en ek huil skaamteloos toe ek na die video van sy kunstenaarsvriende kyk wat in 2018 saamgekom het om sy werk en lewe te vier . . . Suid-Afrikaners wat brûe bou oor taal, kleur, ras, vorm en genre heen. En ek weet hier is waar ek behoort . . .” Só skryf leser Andriëtte Combrinck in ’n brief aan SARIE oor dié 66-jarige Grammy-benoemde musiekikoon wat, soos sy bestuurder dit aan The Guardian gestel het, “diep voetspore laat in die hart van elke persoon wat homself as ’n Afrikaan beskou”.

Megan Werner
Megan Werner

TRAGEDIE SLUK NIE DROME IN NIE

Megan Werner wou nog altyd vir ander tieners wys enigiets is moontlik. Dié matriekmeisie van Krugersdorp en stigter van die U-Dream Global-inisiatief het in Junie saam met vyf medevlieëniers (almal tieners) ’n epiese lugreis van 24 000 km oor die lengte van Afrika voltooi – tot in Kaïro. Hul 4-sitplek-Sling 4 het hulle self onder kennerstoesig aanmekaargesit. (Vir die bouwerk is 20 tieners met geen vorige ondervinding nie uit meer as 1 000 gekies.) Byna oral waar hulle geland het, het hulle ook motiveringspraatjies gelewer. “Dit voel asof ons met hierdie projek nie net onsself geïnspireer het nie, maar ook baie ander tieners van oor die hele vasteland,” het Megan kort ná hul terugkeer aan Huisgenoot gesê.

Maar skaars twee weke later is haar pa, Des, en sy medevlieënier Werner Froneman, projekdirekteure van die inisiatief, in Tanzanië dood toe hul ondersteuningsvliegtuig neergestort het. Vir Megan, wie se eerste herinneringe saam met haar pa in die kajuit is, is dit “die seerste seer”, het sy aan Rapport gesê. “Maar ek weier dat ons droom nou deur ons ergste tragedie ingesluk word . . . Nou moet ons doen wat ek altyd van die verhoë af verkondig. As jy platgeslaan word, as jy voel jy kan nie meer nie, juis dan moet jy aanhou.”

Bronne: Huisgenoot, Rapport

Sjef Kobus van der Merwe
Sjef Kobus van der Merwe FOTO Willem Lourens

WÊRELDKLAS-WESKUS-CUISINE

Die koswêreld het regop gesit toe Wolfgat, ’n intieme eetplek in ’n 130 jaar oue vissershuisie op Paternoster aan die Weskus, as Restaurant van die Jaar aangewys is by die heel eerste Wêreldrestauranttoekennings in Parys, Frankryk. Wolfgat was ook die wenner in die kategorie vir minder bekende (off-map) bestemmings.

Dié nuwe internasionale toekennings bestaan uit ’n lys progressiewe kategorieë wat die diversiteit van restaurante weerspieël. Hoofsjef Kobus van der Merwe en sy span oes baie bestanddele uit die omgewing – van seewier en duinekool tot suurvy en kiesieblomme. Die meeste van sy personeel, wat soos familie is, is op dié vissersdorpie gebore. Wolfgat is ook ingesluit in die nuustydskrif Time se World’s 100 Greatest Places 2019-uitgawe.

Bron: eatout.co.za, Beeld