Die gewilde kykNET-sepie Binneland groet 4 van sy gunsteling-karakters. Dawid Minnaar (dr. Franz Basson), Elma Postma (Bea Basson), Neels van Jaarsveld (dr. Gideon Basson) en Odelle de Wet (Delia Richter) sal vroeg volgende jaar vir die laaste keer in dié sepie te sien wees.

Dawid Minnaar, wat die afgelope 7 jaar al die rol van die briljante breinchirurg speel, het nie sy kontrak vir die volgende seisoen hernu nie omdat hy besluit het om homself eerder aan teaterproduksies te verbind. En met dr. Franz Basson uit die storie, gaan sy vrou, Bea (Elma Postma), ook nie meer in die sepie te sien wees nie. Sy speel die rol van die hospitaal se maatskaplike werker. Neels speel die rol van dr. Gideon Basson, Franz se seun, maar het erken dat sy besige skedule dit moeilik maak om verder in Binneland te speel. Kykers het ook blykbaar uitgekuier geraak met At Koster se teenvoeter, Delia (Odelle de Wet) se karakter, en het dikwels op die sepie se Facebook-blad hul misnoeë te kenne gegee.

Mev. SA-finalis nou in Binneland

“Dit is inherent van die aard van ’n reeks wat daagliks uitgesaai word: Karakters word ingeskryf, hulle vervul ’n dramatiese rol en dan is dit tyd om te groet. Ons het net die hoogste lof vir die professionele wyse waarop hierdie akteurs hulle van hul taak gekwyt het en tot die reeks se sukses bygedra het. Ons wens hulle net die beste toe vir die toekoms,” sê Elsje Stark van Stark Films wat Binneland vervaardig. “Die geleentheid doen homself nou voor om dinamiese en interessante stories te vertel met vars, nuwe talent.”

Delia Richter en Gideon Basson sal tot einde Maart 2014 op die kassie verskyn. Met die koms van dr. Vivienne Armandt (Mary-Anne Barlow) in Januarie 2014 sal Franz Basson ’n moeilike keuse moet uitoefen; een wat sy toekoms saam met Bea en haar kinders, Morné (Ruan Wessels) en Louisa (Helena van Urk), in een van twee rigtings sal stuur … Kykers sal teen Mei 2014 weet wat die uiteinde van hierdie kardinale besluit is.

Binneland se dr. Tertius praat oor sy probleem