Wat is jou werk?

Ek is ’n nasiebouer. Nasionale Braaidag is my permanente werk. Ek wil hê ons moet een dag van die jaar om twaalfuur almal saam braai en lekker voel.

Wat is die beste vleis om te braai?

Enige goeie vleis.

Wors of tjops?

Ek hou van ’n tjop. Ook gemarineerde skaapboud en ’n oopgevlekte hoender met peri-peri-sous; so ’n gewone hoender kan mos vervelig wees. En dan natuurlik braaibroodjies. Jy kan maar ’n potjie maak, dis ook braai.

Pap of braaibroodjies?

Pap vir ontbyt en ’n braaibroodjie vir die middag en aand.

Braai jy vir ontbyt?

Ja, hoekom nie? Die enigste verskil is die son kom op en gaan nie onder nie. Ek is gek oor poetoe vir ’n braai of stywe pap.

Hoeveel keer ‘n week braai jy self?

Tussen drie en vier keer.

Is dit oukei om in die winter te braai?

Beslis. Dan is dit mos nou lekker om by die vuur te staan. Sê net vir jou gaste daar is nie ’n
binnebraai nie, trek ’n fleece aan en dan is alles reg.

Wat is die etiket by ’n bring-en-braai? Kan jy van die ander mense se vleis eet of moet jy net jou eie eet?

Ek dink die regte ding is om goeie vleis te bring. Dis beter om minder vleis te hê van goeie gehalte as baie vleis wat swak is.

En daar is net een ding slegter as ’n taai tjop, dis ’n suurknol wat dikbek is omdat iemand sy vleis geëet het!