“By 7de Laan het ons besluit dis tyd om saam te staan teen die euwel van renosterstroping. Ons akteurs het nie vir 'n oomblik gehuiwer om die Renoster DNS-projek, wat tans by Onderstepoort gedoen word, te steun toe hulle daaroor genader is nie,” lui ’n persverklaring wat deur 7de Laan uitgereik is.

Met dié projek – wat gesteun word deur SANparke, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Groen Valke – word 'n sentrale rekord van elke renoster se DNS geskep. Dit sal ondersoekers onder meer help om horings aan spesifieke misdaadtonele te koppel en hulle in staat stel om stropers meer doeltreffend te vervolg.

7de Laan-akteurs het hul handtekeninge geplaas op seildoeke met afdrukke van foto’s deur professionele fotograwe soos Martin Harvey en Patrick Barton. Dié doeke, asook skilderye van kunstenaars soos Amanda Marais en Wouter du Preez, word verkoop om geld in te samel. Die oorspronklike werke sal ook mettertyd opgeveil word.

Die spesifieke geldinsamelingsinisiatief is van stapel gestuur deur Gustave Schoombee van Kinderdroomwerklikheid en die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Rhinos Alive-projek. Die opbrengs hieruit word eksklusief vir die DNS-projek aangewend.

Besoek gerus www.sahunt.co.za vir meer inligting en leer ook hoe jy kan help.

Om te wys jy ondersteun ook Wêreld-renosterdag, gaan na dié skakel en laai 'n picbadge op jou profielfoto's op sosiale netwerke soos Facebook en Twitter