Ses weke voor die groot fees het ’n groot gewerskaf in die Laan losgebars. Net waar jy kyk, is stelle gebou, rokke gemaak, kapsels beplan, vergaderings gehou. Want hierdie is nie sommer net ’n so-so gebeurtenis nie, dis nie net nog ’n dag in die lewe van ’n sepie nie . . . Dis 7de Laan se grootste troue nóg!

Paula van der Lecq is een van die gewildste karakters in die sepie se geskiedenis en ná sewe jaar se aan en af, heen en weer, haak sy en haar Adonis, Altus de Bruyn, uiteindelik af. Op 10 September staan die twee voor die kansel – Paula in sekerlik die grootste trourok wat op TV gesien is sedert Diana in 1981 die prinses van Wallis geword het.

Colin Howard, ’n vervaardiger, sê hulle het geweet die kykers wag al lank hiervoor en dit moet gróót wees. Daarom het hulle sommer 50% meer begroot as vir enige ander 7de Laan-troue in die verlede. “Ons het ’n bietjie ge-splash,” sê Colin laggend.

SARIE was die enigste lid van die media wat op stel toegelaat is toe die groot gebeurtenis oor twee laaang dae by die 7de Laan-ateljee in Lonehill, Johannesburg, verfilm is. Dit word oor twee episodes, op 10 en 11 September, uitgesaai, “omdat dit so ontsettend groot is”, verduidelik Colin.

Maar hoewel dit vir kykers in net twee opwindende halfuur-episodes verby gaan wees, is daar weke en weke se werk, beplanning, swoeg en sweet, vreugde en trane, angs en drama, in hierdie skouspel in.

Lees in jou September-uitgawe meer of hou sarie.com dop vir nóg foto's en meer oor die rok, die koek en die onthaal!


Hoe lank beplan 7de Laan al dat Paula en Altus trou?

Hoofvervaardiger Danie Odendaal sê dié troue is glad nie van die begin af beplan nie. “Dis die laaste ding waaraan ons ooit gedink het.

“Met sy blommetjie-hemde kom Altus nie eers vaagweg naby die droom-latte in Paula se swart boekie nie – Sven, Jean- Louis, Pyotr, Vladimir . . . Maar as ons ons oë weer uitvee, staan Paula in Altie se arms en staar na hom met haar bokkie-oë terwyl hulle liefdesdingetjies vir mekaar prewel. Dit maak nie saak wat die skrywers gedoen het om die twee uitmekaar te hou nie, hulle het maar altyd by mekaar uitgekom, selfs al moes Altus Caracas toe vlieg om haar te gaan soek.

“Uiteindelik moes ons maar tou opgooi en daarby berus dat Paula by daai kerkpaadjie afgesweef kom aan Oubaas se arm en die knoop finaal voor die kansel deurhak. Die liefde seëvier bo alle dinge."

Paula in haar trourok, onwerp deur Vesselina PentchevaPaula en Oubaas

Diederik en AltusVesselina Pentcheva se ontwerpsketse van die trourok

Pieter en AnnelieSan-Mari, Annelie en Bonita