Adam het in 'n onderhoud met David Letterman (sien video hieronder) vertel hoe hy deur 'n jagluiperd aangeval is. Die 46-jarige akteur het die geleentheid gehad om die jagluiperd water te gee, maar hy het te laag afgesak om water te skep en die jagluiperd het hom bespring. Adam is nie ernstig beseer nie, maar dié nuus het soos 'n veldbrand deur Amerika versprei. Dit is duidelik op die video dat dit nie 'n "aanval" is soos wat die poniepers dit beskryf nie, maar dit het nietemin vir 'n stresvolle oomblik in Adam se lewe gesorg.

Drew het verlede maand vir haar webtuiste 'n video in Sun City geskiet waar dié akteurs besig was om te verfilm. Kyk die video hier. Sy speel teenoor Adam Sandler in Blended – die eerste keer wat dié twee saamwerk in byna ‘n dekade. Die fliek is vergelykbaar met hul vorige films, 50 First Dates en The Wedding Singer.

Drew sê dié film weerspieël die tydperk in haar lewe waarin sy haarself nou bevind. Dit handel oor ‘n paartjie wat mekaar ná ‘n aaklige eerste afspraak weer by ‘n vakansie-oord ontmoet – maar dié keer is die kinders uit hul vorige huwelike ook daar. Drew en Adam wou lank reeds weer saam in 'n rolprent speel. “Dit was al waaroor ek en Adam kon praat. Ons bring die beste in mekaar na vore,” het Drew aan die The Wall Street Journal gesê. Die film word volgende jaar vrygestel.

Adam Sandler gesels oor sy "noue ontkoming"