Adam Tas maak binnekort sy debuut as akteur en sy nuwe album het binne net vier weke goue status behaal! Maar vir dié liedjieskrywer is pa-wees die grootste eer.

Hy praat met SARIE.com oor Want jy is boer, wat ná vier weke op die winkelrakke reeds 20 000 kopieë verkoop het, sy rol in Die Spook van Uniondale én ouerskap.

"Ek is bitter dankbaar dat die mense van Suid-Afrika my musiek so ondersteun. Dit maak die bloedsweet die moeite werd," het Adam vertel voordat hy en ’n paar vriende die geleentheid gevier het.

Deesdae is Adam ook mede-aanbieder van die reeks Wild en Wragtig, wat Dinsdagaande om 21:00 op kykNET wys.

Die sanger en liedjieskrywer hou sy lyf deesdae ook akteur FOTO: Janco Haywood Die sanger en liedjieskrywer hou sy lyf deesdae ook akteur
FOTO: Janco Haywood

Het jy verwag dat jou album so goed sal doen?

’n Mens moet nooit iets skep en nie sukses daaroor uitspreek nie! Anders verdoem jy jouself voordat jy begin. Maar ek het nie gedink die plaat sal binne vier weke so suksesvol wees nie, so dít het my wel verbaas.

Wat beteken die album vir jou?

Want jy is boer is hoe ek dankie sê vir elke boer in ons land. Niemand sien hom huil en bid vir reën in ’n droë tyd nie. Niemand sê vir hom dankie vir sy opofferings nie. Jy eet drie keer ’n dag - sonder ’n boer sou jy niks kon eet nie! Die plaat is my dankie aan hulle!

Wat is jou gunsteling-snit?

Elke lied is vir my soos ’n kind. Dis moeilik om ’n gunsteling te kies! Ek sou sê "Ligtoringman" - dis in my oë die beste wat ek nog kon skryf.

Hoe was fliekmaak vir jou?

Ek's vrek bang vir kameras, so fliek maak was die eerste dag vir my soos om dood te gaan. Daarna het ek ontspan en die proses baie geniet! Dit was ’n belewenis.

Adam reken musiek-maak is meer intiem as fliek-maak FOTO: Janco Haywood Adam reken musiekmaak is meer intiem as fliekmaak
FOTO: Janco Haywood

Hoe vergelyk akteurwees met musikantwees?

Ek is meer ’n liedjieskrywer as wat ek myself as sanger beskou! Dus is die proses van musiekmaak vir my baie meer intiem! Akteurwees? Kom ons kyk maar wat sê Leon van Nierop!

Wat was die grootste uitdaging op stel vir jou?

Die grootse uitdaging was om te ontspan terwyl jy die rol speel van iemand wat jy nie is nie. Dit het nie vir my natuurlik gekom nie!

En die lekkerste deel?

Om vir Jakkie Louw te sien speel met al sy grimering as ’n uit-tand-mechanic. Hy was skreeusnaaks!

Julle het die fliek in Willowmore gemaak. Was dit moeilik om so ver van jou gesin te wees?

Adam se vrou, Caren, by klein Klara-Belle FOTO: Twitter (@adamtasmusiek) Adam se vrou, Caren, by klein Klara-Belle
FOTO: Twitter (@adamtasmusiek)

Dit was moeilik om so ver van die huis en my vrou, Caren, en dogter, Klara-Belle (sy word in Augustus twee), af te werk, maar die mense van Willowmore was so vriendelik en gasvry dat ons dadelik tuis gevoel het.

Wat is die lekkerste deel van pa-wees?

Alles is lekker! Dis enige mens se grootste eer om ’n ouer te wees.

Adam sing vir klein Klara-Belle voor 'n vertoning FOTO: Facebook Adam sing vir klein Klara-Belle voor 'n vertoning
FOTO: Facebook

Wat is die belangrikste les wat jy vir Klara-Belle wil leer?

Ons almal is maar net mense en ons mag foute maak. Dis hoe jy leer om jouself te verbeter! Ek wil haar leer sy mag ’n fout maak en dan, sonder om met haar te raas, die les van die fout uitwys!

Nóg musiek-nuus op SARIE.com