Dit was die eerste Afrikaanse romantiese komedie in dekades. Met bekende, geliefde blinkster-akeurs in die rolverdeling. ’n Wenresep vir ’n treffer fliek. Semi-Soet het gewérk, as lokettreffer en gunsteling onder fliekganers.

Eerskomende Saterdagaand vier Semi-Soet sy 10 jaar reünie met ’n aanlyn-geleentheid saam met hoofrolspelers Anel Alexander, Nico Panagio, Diaan Lawrenson, Louw Venter, Coreen Du Toit, Sandra Vaughn en Paul du Toit. En die publiek kan saam kuier en kyk na onder meer eksklusiewe beeldmateriaal en agter die skerm’s blapse.

Anel Alexander, wat nie net die vroulike hoofrol gespeel het nie, maar ook opgetree het as vervaardiger, werk tans aan die opvolgfliek, Semi-Soet Twee. “Ek gaan Saterdagaand saam met my Semi-Soet-familie kuier en terselfdertyd geld insamel vir my akteursfamilie. Ons doen die geleentheid ten bate van die Teater Bystands Fonds. Vir die eerste keer in byna 10 jaar sal mense al sewe van ons saam op skerm kan sien. Dit is baie pret.” Oor Semi-Soet Twee wil Anel nie nou al te veel weggee nie. “Ons finaliseer nog ’n paar deals wat awesome gaan wees. Wat ek wel kan sê is dit gaan ’n lekker, pret familiefliek wees. Die karakters het gegroei. Hulle gesinne het gegroei. Dit gaan ’n familie-gefokusde film wees. Dink meer Meet the Parents”.

“Semi-Soet is so ’n ikoniese film vir verskeie redes,” vertel Nico Panagio, wat die manlike hoofrol gespeel het. “Dit het die SA filmbryf ’n hupstoot gegee. Die film was ’n seën vir almal wat betrokke daarby was. Vandag blyk dit om ’n iconic fliek te wees. As ons dit sou weet, sou ons almal kaal in die strate gedans het, of ten minste in ons onderkele.”

Vir Louw Venter was dit ’n wonderlike geleentheid waar almal waardeer was en saam kon werk met opgewondenheid.

“Die Teater Bystands Fonds (TBF) is ’n baie belangrike organisasie. Ons as kunstenaars is vryskut. Ons maak staat op onsself. Ons probeer soos baie ander mense daarbuite ’n lewe te maak en voorsiening te maak vir ons oudag. Wanneer dinge moeilik raak , dan raak dit regtig bitter moeilik vir ouens soos ons. Die meeste van ons lewe van die hand na die mond. In hierdie tyd van die pandemie is daar ’n verskriklike nood onder kunstenaars. Die TBF maak ’n groot verskil en hou letterlik mense se potte aan die kook.”

Diaan Lawrenson het die rol van Chandrie gepeel. “Semi-Soet was ’n fees. Letterlik. Ons het hard gewerk en hard gelag. Die film was ’n spanpoging. Olivia was sommer ook op stel. Sy was 10 maande oud.”

Sy benadruk ook die bydrae wat die reünie aan die TBF sal maak. “Die TBF is van kardinale belang om ons akteurs in nood te ondersteun. Ek dink nie mense besef altyd die uitdagings wat vryskutakteurs in die oog staar nie.”

En die akteur Paul du Toit, wat ook gesorg het vir snaakse oomblikke in dié romcom, meen dís die perfekte verskoning vir ’n gesellige aand. “Vir ’n movie om te werk het dit vier belanrike elemente nodig: Drama, komedie, liefde en wyn.”

Die Semi-Soet-reünie vind môreaand, Vrydag 5 Junie, plaas om 19:00 tot 20:30. Kaartjies kos R49.00 per skerm. Om die geleentheid by te woon kan kykers kaartjies koop by www.magrietgroenewald.com/semi-soet.