Drie jaar gelede het hy by die dood omgedraai. Sanger en liedjieskrywer Appel se gewilde nuwe album vertel dié storie. Dis terselfdertyd ’n ode aan sy vrou wat nooit sy sy verlaat het nie.

"As dit nie vir haar was nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie,” sê die sanger en liedjieskrywer Appel eerlik en bewoë oor sy vrou, Sally-Ann.

Net minder as drie jaar gelede, in Oktober 2014, het Appel (oftewel Christoph Kotzé) by die dood omgedraai nadat twee absesse op sy brein ontdek is. Vir drie maande was hy in die hospitaal terwyl dokters gespook het om hom gesond te maak. Waar hy nou uitspan op ’n rusbank in die kantore van Inhoud Huis, die musiekproduksiemaatskappy in Pretoria-Oos wat deur liedjieskrywer Johan Vorster begin is, en waar Appel ook as liedjieskrywer werk, is hy die toonbeeld van gesondheid. Dis moeilik om te glo hy was nie so lank terug nie verlam ná epileptiese aanvalle weens die absesse.

Dit was Sally-Ann se stille krag en aanmoediging terwyl sy boonop hoogswanger was met hul dogtertjie, Luna-Bella, wat hom deurgetrek het, vertel hy. “In ’n tyd wat sy´ beskerming en rustigheid nodig gehad het, met alles waardeur ’n vrou se lyf en emosies gaan tydens ’n swangerskap, was sy my rots. Sy is ’n engel wat oor my pad gekom het.”

Dié dat hy twee liedjies op sy gewilde nuwe album, Lei my na die water, vir haar geskryf het. “Woorde is nie eintlik genoeg nie, maar ek het die liedjies ‘Vroumens’ en ‘Sally’ geskryf om vir haar dankie te sê. Ek sal haar altyd vir daardie tyd eer. Sy is ’n ongelooflike sterk vrou.”

Appel se vrou, Sally-Ann en hul dogtertjie, Luna-Bella.
FOTO Facebook / Appel Musiek Vol

Appel het siek geword kort voor die paartjie sou trou – die dag voor sy rampartytjie. “Ek en my pa, Martin, het daardie dag teruggery van Pretoria af na ons familieplaas by Brits, waar ek en Sally toe nog gewoon het. Ons het nét tuisgekom toe ek, sonder enige waarskuwingstekens, ’n epileptiese aanval kry. My pa het met my hospitaal toe gejaag waar hulle ’n CT-skandering van my brein gedoen het, maar dit het niks gewys nie en die dokters het my huis toe gestuur.” Maar só ’n skok, verduidelik hy, los jou nie sommer nie, al het dokters tóé gesê dis dalk net ’n eenmalige aanval.

“Ek het baie groot geskrik, maar ek dink my familie nog meer. Ek het my bewussyn verloor en nie eens geweet wat gebeur nie, maar hulle het natuurlik alles gesien. Die partytjie het die volgende dag voortgegaan, maar ek was te bang om selfs ’n druppel te drink. En toe, die oggend daarna, kry ek weer ’n aanval. Dié keer het ek gesien hoe my arm verby my kop pluk, en toe verloor ek weer my bewussyn.”

Dié keer is hulle na die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria, waar ’n neuroloog hom laat opneem het. Verdere toetse het ’n abses op sy brein bevestig. Appel is vir MIV getoets, een van die grootste oorsake van ’n breinabses, maar dit was negatief. “Die dokters kon nie vasstel wat die oorsaak was nie. Nóú nog weet ons nie. Hulle het nog nooit so iets gesien nie.”

FOTO Facebook / Appel Musiek Vol

Monsters van die abses is na Europa gestuur, waar spesialiste dringend ’n antibiotika daarvoor moes ontwikkel. “Die antibiotika het begin werk en die swelling op my brein het begin afneem, maar toe kry ek die grootste aanval nóg – omtrent vyftien minute lank.”

En dís toe Appel gedink het dis die einde. “Dié keer was ek bewus van wat om my aangaan. Die aanval het net die regterkant van my lyf geraak, die linkerkant was normaal. Ek kon sien hoe die verpleegsters om my staan terwyl hulle vir ’n dokter wag. Ek kan nie eens beskryf hoe angswekkend dit was nie. My hart het uiteindelik ophou klop en my longe het yskoud begin voel. Ek onthou nog hoe ek gedink het dis dit, hierdie is nou my laaste asem. En toe hou die aanval op. Op daardie oomblik het ek gewéét: Ek kry ’n tweede kans op die lewe.”

Die regterkant van sy lyf was daarna verlam. “Ek kon nie meer praat of loop nie, en ek het soms nie geweet of ek die volgende dag gaan maak nie. Die antibiotika het net ophou werk.”

Luna-Bella
FOTO Facebook / Appel Musiek Vol

’n Tweede abses is onder die oorspronklike een ontdek. Appel se enigste hoop was ’n uiters riskante operasie om albei te verwyder. “Die dokters het gesê my kans op oorlewing tydens die operasie is 4%. Die alternatief was dat die abses kon bars en my doodmaak. Daar was nie regtig ’n keuse nie.

“Op ’n stadium het ek my hand op Sally se maag gesit en net vir haar gekyk. Wat ek wou sê, was: ‘Ek is lief vir jou. Dankie. Ek is lief vir ons dogtertjie, al weet ek nie of ek haar ooit gaan sien nie.’ Maar my mond kon nie die woorde vorm nie.” Appel se oë word vol trane as hy aan daardie oomblik terugdink, want Sally-Ann het presies geweet wat deur sy kop gaan. “Sy het net gesê: ‘Ek weet, my liefie.’”

Die operasie was ’n groot sukses. “Die aand vooraf het ons almal saam gebid – ek, my familie, selfs die dokters en susters, en ’n kalmte het oor my gekom. Wat sou gebeur, sou gebeur, maar ek sou veg om my dogtertjie te kan sien.”

Daarna het hy maande lank spraak en fisioterapie gekry om weer te leer loop en praat. “Ek onthou hoe ek klein balletjies in ’n 500 ml-koeldrankbottel moes gooi, en ek kón eenvoudig nie. Ek kon nie my groottoon beweeg nie, al het ek hóé hard gekonsentreer. Ek moes hardop lees – dan sien en verstaan ek die woorde, maar ek kan dit nie sê nie.

“Met haar groot, swanger maag het Sally my gebad terwyl ek verlam was. Soggens het sy vroeg hospitaal toe gekom en my met al my oefeninge gehelp. Wanneer ek motivering nodig gehad het, was sy streng, en wanneer ek moedeloos gevoel het, was sy sag. Sy weet eenvoudig nie van opgee nie. Sy’t my geleer wat ware liefde is.”

Appel is in Januarie 2015 ontslaan en in Maart, ses maande ná daardie eerste Luna-Bella is in Februarie gebore. “Ek wens ek kon daardie tyd oor hê, net om ten volle myself te kan wees en dit só te ervaar. Helder ligte het nog gepla, geraas was harder as gewoonlik en ek was nog deurmekaar.”

Maar vandag glo hy dit het alles om ’n rede gebeur. “Ek moes verander om ’n beter pa en man te kan wees. Voorheen het ek hopeloos te veel gekuier en was die grapgat by partytjies. Ek het geen grense gehad nie en was selfsugtig. Of Sally nou kwaad was vir my omdat ek laat uit was, ek het nie omgegee nie en gedoen wat ek wil, asof almal en alles vervangbaar is. “Maar wanneer jy byna alles verloor, sien jy wat werklik saak maak. Die belangrikste nou is my vrou, dogtertjie en my ouers.” Sally-Ann sê ook sy sien ’n verandering in haar man. “Hy is ’n baie bedagsamer mens. Hy luister regtig aandagtig en gee om. Voorheen sou hy ook klein dinge teen mense hou, maar nou sal hy dit laat gaan. En sy geloof is dieper. Dit was al wat ons deur daardie tyd gekry het – met Luna in my maag het ek geweet ek kan nie paniekerig raak nie, en my geloof was al wat my sterk gehou het.”

Hulle is in Oktober 2015 getroud. En Appel het begin werk om sy album klaar te skryf. “Die meeste van die album is eintlik oor daardie tyd in my lewe, en die dinge wat ek daaruit geleer het. Dit kom reg uit my hart en ek dink dis hoekom mense daarby aanklank vind, dis baie opreg.”

En mense is mál daaroor. Die album het in Februarie vanjaar, kort ná sy uitreiking, die nr. 2-plek op iTunes gehaal. Die liedjies wat hy vir Sally- Ann geskryf het, is veral gewild. Rikus de Beer, die komediant Radio Raps, het op Valentynsdag vanjaar getwiet:

“Dankie, Appel, jy’t Valentynsdag vir ’n klomp ouens baie makliker gemaak.” Appel is dalk ’n nuwe naam as  kunstenaar, maar hy maak eintlik al jare lank musiek. Dié naam is tydens sy gr. 8-ontgroening deur ’n matriekseun gekies, en dit het net gebly. Hy het wel al twee albums onder sy regte naam, Christoph Kotzé, uitgegee, en saam met kunstenaars soos Jan Blohm getoer.

FOTO Facebook / Appel Musiek Vol

Maar dis veral as liedjieskrywer wat hy bekend is – iets wat eintlik heel toevallig gebeur het. “Van my vriende het Theuns Jordaan by een van my vertonings raakgesien en vra hom toe om ná die tyd na een van my liedjies, ‘Jasmyn Katryn’, in my kar te kom luister. Ek het so skaam gekry dat hulle iemand soos Theuns vra om na my musiek te luister. Wie is ek nou! Maar toe kom hy en hy was mal daaroor. En hy vra of hy dit kan cover en ook of ek sommer vir hom nog ’n liedjie sal skryf. Ek het natuurlik ingestem. Ek was só senuweeagtig om ‘Sal jy bly’ vir hom te gee. Toe word dit ’n treffer en ek het gesien ek kan dalk geld hieruit maak.”

Appel is ook verantwoordelik vir treffers soos Karlien van Jaarsveld se “Hande”, Eden se “Superhero” (wat die Ghoema-toekenning vir liedjie van die jaar in 2014 gewen het), “Koue voete en warm liefde” deur Bok van Blerk, en Laurika Rauch se “Wals, wals Willemien”.

Maar dié keer het hy besluit om self sy liedjies te sing. “Ek het gevoel niemand gaan dit kan sing soos ek dit wil sing nie. ’n Liedjie klink anders as dit jóú emosies is. En die hele album is baie persoonlik, al is daar ook ligter goed soos ‘Lemoene’, my duet met Bok van Blerk.” Die album se sukses is egter vir hom ’n bysaak.

“Voorheen sou dit vir my belangrik gewees het; ek het myself so met ander vergelyk. Maar nou maak sukses en geld vir my min saak, solank ek my familie het. Alles anders is ’n bonus, en ek voel baie geseënd dat die album so goed doen. My oë het oopgegaan vir wat wérklik belangrik is.”

- Die artikel het oorspronklik in SARIE se Augustus 2017-uitgawe.