Die gewilde Afrikaanse sanger Jak de Priester het onlangs sy nuutste musiekvideo geskiet - en wel vir die treffer "Tot die dood ons skei", wat op sy album Ek reis na gister verskyn. SARIE.com kan die agter-die-skerms-foto's deel. 

Die "Tot die dood ons skei"-musiekvideo gaan oor ’n jong paartjie: hy is ’n musikant en sy ’n aktrise. Die jong aktrise word vertolk deur Beáte Olwagen. Ongelukkig sterf die jong sanger en die aktrise moet sonder hom lewe. Jare later is sy by ’n fotosessie vir ’n bekende tydskrif en begin terugdink aan haar verlore liefde. Brümilda van Rensburg speel die volwasse aktrise.

Die sanger en akteur John-Henry Opperman, wat bekend is vir sy rol in Roepman, is getroud met Beáte. Hy is die regisseur van Jak se musiekvideo. Dié paartjie bied ook saam die kykNET-program Kampkos aan.

Dit is nie die eerste keer dat John-Henry en Brümilda saam werk nie. Hulle het saam in die fliek Musiek vir die agtergrond gespeel.

SARIE se fotograaf, Phyllis Green, is ook in dié video te sien as die fotograaf wat die aktrise afneem. Phyllis het tussen die verfilming van die musiekvideo deur foto's geneem van al die aksie agter die skerms en vertel hoe dit gevoel het om vir ’n verandering vóór die kamera te wees:

"Dit was ’n baie interessante proses om deel van Jak se video-opname te wees. Boonop wou ek nog altyd vir Brümilda afneem, en dit was ’n goeie geleentheid om dit te doen. Wanneer ek ’n gewone fotosessie doen, is ek normaalweg in beheer van die hele proses, daarom was dit ’n interessante ervaring om onder leiding van John-Henry Opperman, en binne die beperkinge van die stel, te skiet. Ek moes foto’s neem, én is ook self afgeneem. Dít was vir my die moeilikste, want ek is gewoond daaraan om net agter die kamera te wees. Ek het opnuut respek vir akteurs, sangers en videograwe!"

Kyk hier na die agter-die-skerms-foto's: