Die eerste reeks van Vallei van Sluiers is die storie van ’n paar bekende Bolandse vrugteboerfamilies: die De Bruyns, die Robertses en die Van Rhijns ... en van die mense wat deur die drie families in hul onmin, twiste en skandale ingetrek word. Dit speel af in die pragtige Ceres-vallei in die Boland. Die eerste reeks het op ’n spanningsvolle noot geëindig met die nagmerrietoneel by die kuil waar Hugo en Beulah in die water gespartel het. Drie skote het geklap uit die vuurwapens van Hannah, JP en Bertito. Al drie het meer as genoeg rede gehad om Hugo uit die weg te ruim. Hugo is getref en het bloeiend van sy wonde sy bewussyn verloor,terwyl Con desperaat hulp gesoek het om hom by die hospitaal te kry. Maar niemand wou help nie... Die splinternuwe reeks begin sewe maande na dié skietvoorval by die kuil. Baie vrae word deur terugflitse beantwoord. Maar as die reeks begin, is dit winter in die Ceres-vallei en sneeu laag teen die berghange skep ’n sprokiesagtige landskap. Daar het intussen baie veranderinge in die lewens van die mense van die Vallei plaasgevind...

Vallei van Sluiers is vervaardig deur Baobab-TV-Produksies (Kaapstad) en spog met Nico Panagio, Stian Bam, Erica Wessels, Michelle Burgers, Hannes van Wyk, Albert Maritz, Lida Botha en Yvonne van den Bergh in die rolverdeling. Draaiboeke is deur Johan van Jaarsveld en Louis Pretorius en regie deur Elizabeth Archer.

Die Splinternuwe reeks begin 19 April 2011 om 19:30 net op kykNET!