Lisa van Rooyen het duisende mense weekliks bederf met haar Boer soek ’n vrou-video’s op Facebook, Instagram en YouTube. Ná elke episode het sy kommentaar gelewer op die skok-oomblikke (totsiens, Hester en Marcia!) en allerlei dinge uitgewys (Nikola se skouer, Hentie se lyftaal en Andrew wat soos prins Harry lyk) - alles met ’n wynglas in die hand. 

SARIE het met dié musiekbedryfstudent van Potchefstroom gesels oor verrassende TV-oomblikke, ’n blonde Schalk Bezuidenhout en haar planne vir 2020.

Duisende mense kyk jou videos! Is jy verras deur jou aanlyn sukses?

Ek het dit nooit sien kom nie. Ek het altyd video’s vir vriende gestuur, en eenkeer het iemand besonders lank vir een gelag. Toe besluit ek om die video met die wêreld te deel en ’n paar ander mense vind dit ook snaaks! Ek het nooit hierdie sukses voorsien nie. Toe Boer soek ’n vrou se Facebookblad my video deel, het ek amper flou geval.

Noem die drie kere wat jy amper aan jou wyn verstik het terwyl jy Boer soek ’n vrou kyk.

1. Definitief die oomblik toe Marcia vir Theunis nee gesê het. Skokkend, onverwags, arme Renette! Ek kon nie en kan nie die cringe verwerk nie.

2. Toe ons vir Hester en al haar drama moet koebaai sê. En Hentie wat in die volgende episode die bom laat val dat hy van plan was om Hester te kies, wow! Danksy sy eerlikheid vertrou Hantie hom en my #powercouple het die liefde ’n kans gegee.

3. Die insident met die koei op Graham se plaas. Julle wéét, daai insident. Toe die drie meisies die melkery besoek en Graham begin skree: “Julle, staan terug, staan terug!” En Nikola toe besef dat mens nie wit kan dra op ’n plaas nie.

Wie moet die volgende aanbieder van Boer soek ’n vrou wees?

’n Blonde Schalk Bezuidenhout? Dalk Leandie du Randt met ’n Poetry-baadjie? Ek was ook mal oor Minki van der Westhuizen en Nadia Beukes, hulle kan gerus weer aanbieders wees.

Jou gunsteling-sêding in dié seisoen van Boer soek ’n vrou?

Willem se aitsa, of enigiets wat hy kwytraak met sy aksent! 

Jy het koffie gaan drink saam met Damian, hoe het dit gebeur?

Damian het my video’s gekyk en vir my ’n boodskap gestuur. Ons het lekker begin gesels en hy het in Potchefstroom kom koffie drink. Ons het seker vir drie ure gesit en kuier! Hy’s nie so nice soos wat hy op die TV was nie – hy is nóg nicer as wat mens ooit kan raai. Op die TV sien jy eintlik net ’n paar minute van iemand se menswees.

Lisa ontmoet vir Damian in Potchefstroom
Lisa ontmoet vir Damian in Potchefstroom FOTO Facebook / @lisametdierooihare

As jy nog iemand van Boer soek ’n vrou kan ontmoet, wie sal dit wees?

Beslis die bestuurder van die Toyota, daai man wat die bakkie bestuur waarin die meisies ry wanneer hulle die plaas moet groet. Hy het seker al so baie skandes gehoor en trane gesien, hy’s die Dr. Phil!

Is jy verras deur die reeks se einde?

Ek weet dit is maklik om nou te sê, maar ek het van die begin af geweet watter paartjies saam gaan kom. Ek is baie trots dat my voorspellings reg was! Dit was ’n baie mooi afsluiting. Vir sommige het liefde gewen, en selfs dié wat alleen daar was, het regtig gelukkig gelyk.

Jy is ’n kenner van TV, die liefde en wyn ... Noem een bekende met wie jy sou wou trou, een wat jou laat glo liefde wen, en een saam wie jy jou wyn sal deel.

Simoné Nortmann het my laat glo dat liefde wen! Sy en haar man lyk so verlief, en boonop ook na lekker mense. As ek moet trou met ’n bekende, sal ek vir Hollywood mik. Dit sal hopeloos te awkward wees om ’n plaaslike bekende eendag te ontmoet. Ek kies dus Zac Effron, hy is al vir jare lank my trouman. En as ek wyn moet deel, dan kies ek vir Schalk Bezuidenhout en Mila Guy, eintlik enige van die Hotel-akteurs!

Jy moet aan ’n realiteitsreeks deelneem …

Net nie Survivor nie, ek sal nie oorleef sonder kos en wyn nie! Ek sal The Bachelor kies. Ná die program eindig, sien jy dat baie van die deelnemers vriendinne bly. As ek dus nie wen nie, weet ek dat ek steeds nuwe vriendskappe gaan maak.

Wat is jou planne en wense vir 2020?

As ek nóg video’s kan deel wat mense geniet, sal ek baie bly wees. Ek’s steeds baie dankbaar en onkant gevang deur kykers se ondersteuning. My wens sal wees om ’n Toyota-bakkie as geskenk te kry. My droom sal wees om in Leah se voetspore te volg en die aanbieder van ’n program te wees. Vir nou is ek egter net dankbaar vir die wyn en getroue kykers, laat daar nóg daarvan in 2020 wees!

Volg vir Lisa op YouTube, Facebook en Instagram