Die 40-jarige akteur Paul Walker van Fast & Furious-faam het gister, Saterdag, 30 November, in ’n motorongeluk gesterf, berig CNN

Paul se publisiteitsagent het dit bevestig, maar kon nie meer inligting verskaf nie. Hy was glo ’n passasier in ’n vriend se kar onderweg na ’n liefdadigheidsfunksie ten bate van die slagoffers van tifoon Haiyan in die Filippyne.

Die ongeluk het omstreeks 15:30 sowat 200m van die gebou gebeur net buite Hollywood waar die funksie plaasgevind het. Volgens die verkeersdepartement het die rooi Porsche beheer verloor en aan die brand geslaan. Beide insittendes is op die toneel dood verklaar.

Paul het in al ses Fast & Furious-films gespeel en was ten tyde van sy dood besig om aan die sewende film te skiet wat volgende jaar vrygestel sou word.

Paul het homself op sy Twitter-blad beskryf as ’n "outdoorsman, ocean addict, adrenaline junkie ... and I do some acting on the side." Lees meer hier oor sy liefde vir die see.

Vriende, bekendes en aanhangers het sosiale netwerke gebruik om hul simpatie uit te spreek.

BRON: CNN