In Hollywood word vroue steeds aansienlik minder betaal as mans, berig Forbes. En dís nie al plek waar ons tweede kom nie ...

Vir die derde agtereenvolgende jaar kry die hoogste betaalde aktrise baie minder as haar manlike eweknie.

Sandra Bullock het vir die tydperk Junie 2013 - Julie 2014 $51 miljoen ingebring, terwyl Robert Downey Jr $75 miljoen verdien het. Klik op die jaartalle om die verskil in inkomste die afgelope 3 jaar te sien.

Ken jou plek

’n Meningspeiling wat verlede jaar onder 3 500 Suid-Afrikaners gedoen is, het die volgende bevind, berig Die Burger.

    • 42% van mans meen dat SA vroue op hul plek gehou moet word
    • 41% van die vroue het saamgestem

    • 47% van mans het gesê dat mans beter politieke leiers is
    • 41% van vroue het saamgestem

    • 31% van die mans en vroue het saamgestem dat dit vir seuns belangriker is om onderwys te kry as vir meisies

    • SA vroue se gemiddelde salaris is byna R2 800 minder as dié van mans

*Dié inligting kom uit die Pulse of the People-peiling wat die navorsingsmaatskappy Ipsos gedoen is. Lees meer HIER.

Hou op lag

Die Turkse adjunkpremier Bulent Arinc het onlangs gesê dat ’n vrou eerder nie in die openbaar moet lag nie - weens morele redes. Dít laat haar glo onwaardig lyk. Talle vroue het hulle tot sosiale media gewend en foto's gedeel waarin hulle lag, met die hashtag #laughter.

Emma Watson, wat onlangs aangewys is as ’n welwillendheidsambassadeur vir die VN se organisasie vir vroue, het ook haar steun verleen met dié foto

Skok-statistieke

In SA word een vrou elke agt uur deur haar maat vermoor. Ons verhoudings bied nie altyd die liefde en vertroeteling wat ons toekom nie. Maak seker jy sien enige gevare betyds raak.

Is jóú maat ’n gevaar?

Prof. Anni Hesselink van UNISA sê daar is gewoonlik ’n sneller wat ’n man daartoe dryf om sy maat te vermoor. “Dis gewoonlik iets wat hom bedreig laat voel, of hom laat voel hy verloor beheer of mag. In die meeste gevalle is dit wanneer jy gedreig het of besluit het om hom te los, of hom gelos het. Ander algemene snellers wat tot moord lei, sluit in jaloesie (oor jou finansies, intellek, sosiale status of die vermoede of wete dat jy ’n ander man ontmoet het), wraaksug, gevoelens van teleurstelling, agterdog en mislukking.”

Vra jouself dié vrae af om seker te maak jy is nie in gevaar nie - KLIK HIER. *Dié inligting kom uit die artikel “Is jy veilig by jou geliefde?” in jou Julie 2014-uitgawe. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar jy kan dit steeds digitaal aflaai – klik HIER.