Die 7de Laan-aktrise Donnalee Roberts het pas aangekondig sy is geskei.

Die pragtige donkerkop, bekend as die Laan se Anneli, het eksklusief aan SARIE.com vertel dat sy en die sakeman Gerber Strydom “hard probeer het” om hul huwelik te red. “Maar dit het ongelukkig net nie uitgewerk tussen ons nie. Ek en Gerber het baie jonk getrou en ongelukkig uitmekaar gegroei.”

Donnalee en Gerber, wat in November 2010 getroud is, is steeds goeie vriende, sê sy.

Hulle het saam die volgende persverklaring uitgereik:

“Om te skei was 'n besluit wat ons saam gemaak het omdat ons op die einde van die dag verskillende dinge uit die lewe wou hê. Ons is steeds na aan mekaar en danksy die ondersteuning van ons familie, vriende en kollegas is ons sterker en het albei totale vrede in ons harte oor ons besluit. Dit is altyd sleg en onnodig as mense hul eie redes insien oor hoekom huwelike soms nie uitwerk nie maar ons is dankbaar om steeds in mekaar se lewens as goeie vriende te kan wees. Ons albei het wonderlike projekte en drome vir die nuwe jaar.

Gerber en Donnalee”

Donnalee sê sy kyk nou net vorentoe. “Albei van ons fokus nou net op ons onderskeie loopbane en projekte vir die toekoms,” het sy gesê.

Sy en Gerber hanteer die egskeiding beide met 'n positiewe gesindheid.