Verlede Sondag het ma’s, instaan-ma’s en versorgers oor die wêreld heen Moedersdag gevier. Van ons bekendste sterre het ook vir die eerste keer Moedersdag gevier. 

Donnalee Roberts

Die aktrise, rolprentvervaardiger en skepper van The Romantic Collective-klerereeks het vroeër vanjaar haar en manlief Ivan Botha se eersteling, Cameron, verwelkom. Die klein seuntjie het reeds diep in sy ma se hart gekruip. “Ek kan nie vir jou sê hoeveel vreugde hy ons verskaf nie. Hy het ’n ongelooflike diep kyk. Maar as hy glimlag, voel dit vir my asof hy iets binne sy siel vir my wys. Daar is ’n helderheid en vreugde wat hy met ons deel,” het sy onlangs aan SARIE.com gesê.

Kyk net hoe kosbaar is klein Cameron:

Klein Cameron Botha FOTO Instagram / Donnalee Roberts
Donnalee en haar eersteling. FOTO Instagram / Donnalee Roberts

Roeline Daneel

Die aktrise, wat haar talent vir toneelspel op die verhoog en voor die kamera uitleef, is halsoorkop verlief op haar en haar man, Werner Lotz, se eersteling, Alexa. Die pragtige dogtertjie met daai blink ogies wat net elke hoek van haar nuwe wêreld wil inneem. Vir Roeline is ouerskap ’n reis wat sy oor en oor sal aanpak. “Ouerskap is meer uitdagend, maar terselfdertyd meer lonend as waarop ek ooit kon voorbereid wees.” 

Kyk net hoe mooi is klein Alexa:

Klein Alexa saam met die mooie Roeline. FOTO Instagram / Roeline Daneel
Die pragtige gesin. FOTO Instagram / Roeline Daneel

Erica Wessels

Die aktrise het op 41 haar eersteling, Stella, verwelkom. Die bondeltjie vreugde, wat nou 7 maande oud is, het haar en manlief Willem Boshoff se lewe oorrompel. “Ek kan my nie my lewe sonder haar indink nie,” skryf Erika op Instagram. 

Kyk net hoe ougat is klein Stella:

Erica en pragtige Stella. FOTO Instagram / Erica Wessels
Die gelukkige gesin: Ma Erika, Pa Willem en dogtertjie, Stella. FOTO Instagram / Erica Wessels

Marijke Coetser

Die Getroud met Rugby-ster het verlede jaar die lewe geskenk aan haar en haar man, Werner Coetser, se eersteling, Layla. Sy het reeds ’n seun, Juwan, uit ’n vorige huwelik. “Ons prinses, ons is so lief vir jou,” skryf sy op Instagram.

Oor haar nuwe lewe saam met Werner het sy in 2019 aan SARIE.com gesê: “Ek het vir lank my hart toegemaak vir liefde en sou nooit kon dink om ’n tweede kans te kry nie. Maar Werner het my geleer om te vertrou en weer myself te ontdek, om liefde ’n kans te gee en my hart weer oop te maak vir geluk.”

Kyk net hoe skattig is Layla en haar donker lokke:

Marijke en klein Layla. FOTO Instagram / Marijke Coetser
Die oulike gesin: Werner, Marijke, Juwan en klein Layla. FOTO Instagram/ Marijke Coetser

Reandi Grey

Die 7de Laan-ster is verlief op ma-wees en haar eersteling, Heidi. Die sonskyn-dogtertjie wat haar en haar man, Dewald Grey, se harte gesteel het. In ’n 2019-onderhoud het Reandi aan SARIE.com gesê: “Daar is ’n ongelooflike vergenoegdheid en vreugde in my lewe. Dis asof ek nou ’n nuwe kleur sien. Nie ek of sy weet wat om te doen nie. Dis my eerste keer as ’n ma en haar eerste keer as ’n kind, so ons kan mekaar nie beoordeel nie.”

Kyk net hoe kostelik is klein Heidi:

Klein Heidi FOTO Instagram / Reandi Grey
FOTO Instagram / Reandi Grey