Bekende kunstenaars gaan Woensdagaand 21 Mei in onderskeidelik Pretoria en Kuilsrivier in twee gelyklopende musiekkonserte optree ten bate van Jannie Moolman. Jannie is vroeër die maand ernstig beseer, maar die oorsaak van sy beserings is tot dusver nog nie bekend nie.

Hier is die inligting van dié twee Die Son sal weer Skyn-konserte wat ons van die organiseerders ontvang het.

’n Groot hoeveelheid top-Afrikaanse kunstenaars trek op Woensdagaand 21 Mei saam in onderskeidelik Pretoria en Kuilsrivier vir twee gelyklopende musiekkonserte ten bate van die beseerde tenoor Jannie Moolman.

Dit wissel van die veteraan-liedjieboer Anton Goosen, operaster Zanne Stapelberg en rock-diva Amanda Strydom in die Suide, tot trefferkonings soos Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel in die Noorde.

Die Son sal weer Skyn-konserte (die titel van ’n onlangse trefferballade van Jannie) is spontaan gereel as omgee-konserte om vir Jannie beterskap toe te wens. Die volle opbrengs van die konserte gaan daarvoor om hom te ondersteun vir ’n verlies aan inkomste terwyl hy aansterk,” sê die nasionale koördineerder van die projek en eienaar van M4 Events, Hetta Saunderson.

Kaartjies is vanaf vanmiddag (Vrydag) op Computicket beskikbaar teen R120 per persoon en R60 vir skoliere. Die Pretoriase konsert is by die Choose Life Church in Moreletta-park om 19:00. Die kunstenaars sluit in Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Jay, Dozi, Corlea Botha, Riana Nel, Arno Jordaan, Jak de Priester, Matthys Roets, Monique, Willem Botha en Liza Bronner.

Die Kaapse konsert is ook om 19:00 by die Oase Ouditorium in Rouxville, Kuilsrivier. Die kunstenaars sluit in Wicus van der Merwe, Danie Niehaus, Amanda Strydom, Anton Goosen, Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce, sangers van Artscape Opera onder leiding van Albert Horne, Pedro Kruger, Broers, Waldo Lotz, Andries Vermeulen, Dowwe Dolla, Louis Loock, Sarah Theron, Desmond Wells en Schalk Joubert.

“Dit is weereens ’n bewys dat die land se Afrikaanse kunstenaars vir mekaar omgee en almal tree kosteloos op. Van hulle, wat weens ander verpligtinge nie beskikbaar is nie, het reeds hul beste wense of selfs bydraes vir Jannie gestuur. Jannie maai wat hy gesaai het, want elke keer as daar so ’n inisiatief is, om iemand te ondersteun, meld hy eerste aan,” sê Saunderson.

Volgens haar word interessante konserte van top-gehalte verwag met twee van die bedryf se uitstaande musiekregisseurs Devereaux van der Hoven (Pretoria) en Janine Neethling (Kuilsrivier) betrokke. Die programkoördineerders is die ervare Ronel Brink (Pretoria) en Pedro Kruger (Kuilsrivier).

Volle besonderhede oor die konserte en die adresse is beskikbaar op die webwerf: www.m4events.co.za

 Vir enige verdere navrae oor die konserte, kontak Hetta Saunderson, eienaar van M4 Events – hetta@m4events.co.za of 082 920 3444.

Die nuutste inligting oor Jannie op SARIE.com