Nou, as jy al 32 weke swanger was … en moes trek … of al 32 weke swanger was, twee ander kleuters en peuters gehad het én moes trek … óf, die beste van alles, 32 weke swanger was, twee ander peuters gehad het, moes trek EN saam met die hele familie vir 19 uur in één posisie VSA toe vlieg, vir 3 weke daar móés bly en weer vir 16 uur in een posisie moes terugvlieg, moet jy asseblief nuwe respek vir my kry. Dit was LOSHANDE een van die moeilikste tye in my lewe.

Onder die omstandighede het dit eintlik goed gegaan. Behalwe vir die kinders se aanvanklike uiterste vliegvoosheid (jetlag - waar ons 01:00 wakker moes word en teen 02:00 ontbyt moes eet, daarna weer so 05:30 gaan slaap tot 07:00 en dan was dit tyd vir middagete, ensovoorts, ensovoorts) was ek verbaas hoe hulle al die veranderinge en aanpassings kon hanteer.

Wat hierdie tyd vir ons nóg moeiliker gemaak het, was die feit dat ons met ons aanvanklike aankoms in Washington DC met skok ontdek het ons tandem-stootwaentjie (wat dierbare mense vir ons geleen het vir hierdie oefening) was steeds in Dakar … waar ons vlugtig in die middel van die nag moes stop om te herlaai.

Die ander skok was dat my mediese verslae by die VSA se immigrasie-afdeling nie voltooi was nie. Dis omdat ek tydens die mediese ondersoeke nie X-strale kon laat neem nie, aangesien ek swanger was. Hulle het nagelaat om daardie belangrike stukkie inligting met ons te deel en ons toegelaat om ons hele trippie te beplan en te betaal, hoewel dié reis toe nie sy doel kon dien nie.

My man en seuns was goedgekeur en amptelik Afrikaanse Amerikaners, maar as ek weer my voete in die vriendelike (dog vreemde) VSA sou wou sit, sou ek die hele aansoekproses van voor af moes begin.

Terwyl ons steeds by Washington DC se immigrasie met twee oormoeg en honger kinders sit en wag vir klaarheid oor ons situasie, verpas ons sommer ook ons volgende vlug na die JFK-lughawe in New York. Gelukkig aanvaar die lugredery verantwoordelikheid en sit ons op ’n latere vlug. Sonder ons stootwaentjie word Mamma gedwing om ’n babatjie van 21 maande vir honderde meters in die lughawe te dra terwyl Pappa sukkel met ’n 3½-jarige en 24 tasse (dis hoe dit gevoel het!). Uiteindelik kom ons teen 5-uur die middag in Manhattan. Teen dié tyd is dit al ná middernag in Suid-Afrika en my kinders weet eintlik nie of hulle kom of gaan nie. Daar word gebad, geëet en geslaap.

Toe ons 01:00 wakker word in die beperkte spasie waaruit woonstelle in Manhattan maar bestaan, is ons een opsie om die TV-kanale te ondersoek. Die eerste kanaal is ’n New York nuuskanaal wat met 27 uitroeptekens en waarskuwings vir ons vertel van die grootste sneeustorm in jare AKA ... Polar Vortex wat op pad is om die land te tref en dat ons liefs binnenshuis moet bly met ons kinders.

Lekker man.

Binnenshuis vir drie dae in Manhattan in ’n 2 m x 2 m-woonstel. Dit raak net beter… Toe die ergste storm eers oor was, het ons dit met ons kinders buite gewaag. Mens kan darem nie vier dae in New York wees en niks daarvan beleef nie. Ons kon vir die dag ’n stootwaentjie by vriende in die stad leen en ons waag dit Rockefeller-sentrum toe om die grootste Kersboom te besigtig.

Aletté en Heinz in New York FOTO: vergunning van Aletté-Johanni Winckler Aletté en Heinz in New York
FOTO: vergunning van Aletté-Johanni Winckler

Ons volgende bestemming was Raleigh, Noord-Carolina, waar ons vriende gaan besoek het. Ek dink ek moet dalk die res van hierdie stuk puntsgewys neerskryf, want anders gaan jy tot oormôre lees. Ek het in ’n stadium getel en ek dink ons het in 2,5 weke altesaam 14 keer gevlieg met ons 2,5 kinders. Om by Raleigh uit te kom moes ons na Charlotte vlieg vir ’n verbindingsvlug. As gevolg van die sneeustorm is alle vlugte landwyd vertraag. JFK lyk asof ’n plakkerskamp besig is om wortel te skiet soos mense sommer oral op kampeerbedjies lê en slaap. Met die aankomslag by die lughawe word ons gewaarsku ons vlug gaan te laat wees om ons volgende vlug te vang. Daar is niks wat ons daaraan kan doen nie en ons moet maar sodra ons in Charlotte aankom gaan hoor of ons op standby kan wees vir die eerste beste vlug, anders verander ons 13:00-vlug na 20:00 en dan moet ons nog 45 minute ry na die mense se huis toe. Teen daardie tyd slaap my kinders (hopelik gewoonlik) LANKAL. Ek het nie vir hulle ekstra bottels of kos ingepak nie, want onder beter omstandighede sou ons al teen 14:30 by hulle aangekom het.

Charlotte se lughawe lyk NOG erger as JFK en my kinders begin saam plak op die vloer, kompleet met kussings en beddegoed en iPads. Net toe Lian goed bevriend begin raak met ’n stout Amerikaanse seuntjie, kom Heinz in die gang afgehardloop en skree ons moet kom, want ons kon ’n vroeër vlug kry - so teen 17:00 - en ek gryp kinders, kos en beddegoed en hardloop met die span in die gang af, asof die FBI agter ons aan is.

Uiteindelik in Raleigh aangekom, is ons bagasie nie daar nie. Jip, jy het reg gelees. Geen badgoed, geen skoon klere vir die kinders, geen pajamas, nada … niks … En ons wag ’n hele dag voor ons dit uiteindelik kry. Net voor ons Raleigh verlaat, kry ons UITEINDELIK, ná ’n week, ons stootwaentjie - wat van daar af ons lewe BAIE draagliker gemaak het!

Van Raleigh af moes ons weer, via Charlotte, Nashville toe vlieg.

In elke dorp besoek ons die plaaslike dokter wat met immigrasie werk en bereid sal wees om ’n X-straal van my te neem, maar in die VSA vrees hulle mos enige ding (veral om gedagvaar te word, vir enige ding).

Om ’n baie lang storie baie kort te maak: 3 groot stede, 14 vlugte met 2 kleintjies en ’n lekker pens, uiterste weersomstandighede, bittermin slaap en ’n fantastiese avontuur later het ek my regte dokumentasie gekry - 20 minute voor ek op die vlug moes klim terug Suid-Afrika toe. ’n Wonderwerk.

Ek en Heinz het met die tweetjies letterlik van platform na platform gehardloop om ons vlug terug SA toe betyds te maak. Toe is dit weer ’n 18 uur lange vlug terug met twee karnallies ...

Lees môre wat gebeur het toe die Wincklers uiteindelik weer in Suid-Afrika land!

Nóg hoofstukke in "Die waarheid oor die Wincklers"