Ha-ha! Alle grappies op ‘n stokkie. Vandag wil ek julle graag meer vertel van die lewe in ons huis ná die magtige dreuning. Gisteraand kom ek in my kamer terwyl Lian kaalstert rondhardloop en vir my die Afrika-motief wys wat hy op die mat gepiepie het, en ek besef dis ‘n whole new ballgame... (pun intended).

Die lewe (en my lyf) sal net nóóit weer dieselfde wees nie. Ek wil nie eens begin met hierdie lyf nie. Ek sal julle die hele dag besig hou met allerhande fieterjasies en kwessies. Jy sou dink ek het met my baie onrealistiese verwagting ná Lian se geboorte besef dat mens nie uit die hospitaal stap en in jou pre-preggie-klere pas nie, ook nie na ‘n maand ... of 2 ... of 3 of 5 NIE! Maar ek is ‘n vrou met BAIE geloof, want elke liewe item wat ek vir my (selfs in Sarie se winkel) aanskaf is in my ou, kleiner grootte. Dus sit ek met ‘n kas vol kleurvolle somer-items wat vir my pronk as ek my deur oopmaak, maar aan my lyf is my grou-grys meestal (steeds) swangerskapklere. (Hierdie het NIKS met enigiemand uit te waai wat nié my blog lees nie, dus claim ek skrywer-leser-vertroulikheid.)

Simeon Carl Winckler

Simeon Carl Winckler

FOTO'S: Salomien Smal – Of The Earth Photography

Met Simeon het ek besluit om langer te borsvoed. Ek het ‘n keuse gemaak om my kind se gesondheid bo my gerief te plaas en ná byna 5 maande borsvoed ons voort. Wel, dalk is dit die halwe waarheid, want hierdie mannetjie het besluit die Dr Browns se tietiebottel-tietie is baie lekkerder as sy Dr Mom s'n. Nou  moet Mamma elke 4 uur met haar pompie gaan sit en uitmelk ... maak my nogaals “booby trapped”... En ná 5 maande flikker my man se oë steeds helder elke keer as ek sê: “Ek moet gaan pomp.” Alhoewel hy  weet dat hy nié by dáái pompsessie betrokke is nie...

As ek en Heinz nóú moet besluit of ons nóg kinders wil hê, is die kanse dat ons sal instem seker skaars (nie dat dit van óns afhang nie), maar as as ons na die statistieke van my twee kinders kyk, lyk die kanse gunstig vir ‘n 3de en selfs 4de een:

Wat sê julle?

Baba nr. 1 = Ma tel 30kg op
Baba nr. 2 = Ma tel 20 kg op
Baba nr. 3 = Ma tel 10 kg op
Baba nr. 4 = NIKS?

Baba nr. 1 gebore in 17 uur met epiduraal
Baba nr. 2 gebore in 1,5 uur (90 min) sonder epiduraal, met gas
Baba nr. 3 gebore in 90 sekondes sonder gas
Baba nr. 4 loop self uit

Baba nr. 1 = géén hare of ooghare
Baba nr. 2 = donker bos hare en lang wimpers
Baba nr. 3 = goue lokke en kameelperd-wimpers
Baba nr. 4 = Raponsie?

Baba nr. 1 = slaap deur op een jaar
Baba nr. 2 = wys tekens van deurslaap op 4 maande
Baba nr. 3 = slaap deur op 2 weke
Baba nr. 4 = kom slapende uit... -geloop

Daar is dus ‘n 50/50-kans dat elke kind se ervaring nét beter gaan word. Alhoewel ons bankrekening, mediese fonds, kar en huisgrootte dalk met elkeen bietjie (baie) meer buigbaar sal moet wees.

Dames, ek moet egter erken dat my lewe nog nooit so ryk en vol was nie. Met 2 seuntjies voel dit nou soos ‘n behoorlike gesin en alhoewel ons ons hande vol het, is ons harte voller!

Volgende keer praat ons meer lyfstorietjies... Hier's 'n paar foto's van die Wincklers.

Simeon (links) en Lian Winckler (regs)

Die Winkler-gesin

Simeon Carl Winckler

Simeon Carl Winckler

Aletté en Simeon Carl WincklerSimeon Carl WincklerAletté en Simeon Carl WincklerAletté en Simeon Carl Winckler