Met die Critics' Choice Awards het bekendes besluit om minder kaal arms te wys. Daar was moue net waar jy kyk: stywe moue, los moue, driekwartmoue ... en hoe ongelooflik stylvol het dié vroue nie gelyk nie!

Cate Blanchett is duidelik op die wenpad. Best dressed (volgens my) by die Golden Globes, en met die Critics' Choice Awards het sy ook nie 'n modevoet verkeerd gesit nie. Swart was weer haar eerste keuse, maar dié keer het eenvoud koning gekraai. Cate het 'n lospassende halfmou gedra. Die halfmou trek altyd aandag na die middel, wat sy  hier pragtig beklemtoon het met 'n bonkige belt. Die halfmou is perfek vir enige vrou.

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Amy Adams doen dit weer in 'n helder kleur rok en wys dat rooikoppe ongelooflik lyk in rooi en pienk. Tydens Golden Globes het sy baie arm gewys, maar nóú het sy 'n meer klassieke snit met 'n drapeer-mou gedra. Van die kant lyk dit soos 'n halfmou, maar van voor wys dit 'n bietjie meer arm. Haar rok werk perfek vir iemand wat nie groot borste het nie.

FOTO: Twitter FOTO: Twitter

Só het die sterre by die Golden Globes gelyk

Aisha Tyler (The Talk) het lieflik gelyk in haar langmou-kantrok met kralewerk. Wenk vir bruide wat in die winter trou: ek dink dié rok sal ongelooflik lyk in wit. Weer eens 'n mou wat perfek is vir enige vrou.

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Oprah Winfrey se swart rok met 'n driekwartmou het haar figuur gevlei. Die driekwartmou word beskou as die vleiendste mou en is perfek vir enige vrou, enige ouderdom. Dit is hoekom ons dikwels sê stoot jou moue op of rol dit 'n bietjie op – dit is net meer vleiend en stylvol.

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Ander moulengtes:

Die kapmou – die mou waarvoor jy versigtig moet wees. Dit is nie altyd vleiend vir jou bo-arms nie.

Die kwartmou (kortmou) - wees uiters versigtig vir dié een wat styf sit, dit kan net so onvleiend wees soos die kapmou. 'n Kortmou met 'n meer drapeeragtige of vallerige gevoel is 'n bietjie meer vleiend.

Dié wenke is net 'n gids. Die beste is om dit aan te pas en te kyk hoe dit vir jou werk. Elke vrou se lyf verskil; nie elkeen van ons pas perfek in 'n kategorie of "boks" nie.

Wat is jou gunsteling-moulengte? Hoekom? Waarom is jy mal daaroor?

Wenners by die Critics' Choice Awards

  • Beste rolprent: 12 Years a Slave
  • Beste akteur: Matthew McConaughey (Dallas Buyers Club)
  • Beste aktrise: Cate Blanchett (Blue Jasmine)
  • Beste ondersteunende akteur: Jared Leto (Dallas Buyers Club)
  • Beste ondersteunende aktrise: Lupita Nyong'o (12 Years a Slave)
  • Beste regisseur: Alfonso Cuaron (Gravity)

Gaan kyk hier na die ander wenners.