Verlede jaar se wiskunde-matriekuitslae laat ’n mens steeds sidder. 

Máár daar is hoop, reken Kurt Minnaar, ’n onderwyser wat rap en hip-hop inspan om leerders wiskunde te leer aan die Hoërskool Eben Dönges in Kraaifontein naby Kaapstad.

"Onderwysers moet uit die boks dink," glo hy. "Die tradisionele onderwysmetodes werk nie altyd nie. Rappers soos AKA en Jay Z is hierdie kinders se lewe. Ek glo ’n mens moet dít wat hulle ken saamgooi met ’n vak soos wiskunde, maar ook ander vakke. Maak opvoeding kreatief, maklik verteerbaar. Dan het hulle pret, dit neem die angs uit die vak, gee hulle selfvertroue. Dit maak hulle lus vir die vak."

Sy klasse is raserige affêres. Die kinders sing saam, dans, swaai arms rond. "Dit is heerlik om te sien hoe hulle dit geniet om byvoorbeeld die tafels uit te rap. Dit werk nie vir alles nie, maar soms is selfs graadagts nog onkundig oor die grondbeginsels, die tafels, wat hulle al in graad vier moes ken. Ek leer hulle baie van dié dinge deur middel van rap en hip-hop. Dis ongelooflik hoe onderonsies tussen leerlinge in die klas verbeter het danksy hierdie onderrigmetode. Die kinders het meer selfvertroue. Die sleutel tot die sukses is dat hulle geniet wat hulle doen," vertel hy.

Die metode is al in ander lande gebruik, het hy agtergekom toe hy dit gaan google het. "Maar ek en vriende het eg Suid-Afrikaanse musiek gebruik. Dis ’n nuutjie. Ek wou nie ander musiek gebruik nie." En hy het groot planne en is besig om nog "tracks" te ontwikkel vir dié doel.

Kyk die video hier:

Verskeie van die musiekvideo's wat Kurt in sy onderrig gebruik, is gratis beskikbaar op sy webtuiste. Hy is besig om werksessies oor dié metode van onderrig te ontwikkel om ander onderwysers in te wy, en werk ook aan ’n toneelstuk waarvoor die akteur Soli Philander die regie doen. "Ek glo ons moet die education system vars benader en wil mense in dié eenmanvertoning meer hieroor vertel," sê die onderwyser, wat ook ’n choreograaf is en saans deelneem aan hip-hop-vertonings.

Hy reken as jy nie ’n "amptelike leier" in die gemeenskap is nie, is dit geen rede om terug te sit nie. Jy kan altyd help en ’n verskil maak. "Wees ’n leier sonder ’n titel. Elkeen kan ’n leier wees. Wees ’n voorbeeld. Ander sal jou gou genoeg volg. Met of sonder ’n titel. Solank jy inspireer.’’

Dís wat dié ou doen. En hy maak ’n verskil, sit ’n glimlag op leerders se gesigte wat vroeër angsbevange was as hulle na die wiskundeklas gestap het.

As hiperaktiewe kind het Kurt immers self gesukkel met wiskunde. Hy wéét waarvan hy praat. Hip-hop, rap en wiskunde het hom lief gemaak vir die lewe. "Ek is passievol om dít met kinders te deel," sê die onkonvensionele 33-jarige met sy dreadlocks.

Hoe kan ’n mens kinders motiveer om beter in wiskunde te vaar?

Die Kaapse hip-hop- en rap-wiskunde-onnie Kurt Minnaar het hierdie raad vir kinders wat beter wil vaar in wiskunde.

1. Daar is nie iets soos ’n dom vraag nie. Vra baie vrae.

2. Omring jou met kinders wat die vak verstaan. En vra ouer kinders se raad. Dit help altyd.

3. Maak die vak jou eie – skryf rympies of liedjies om byvoorbeeld die tafels te leer, en dans en sing dan daarop. Jy kan dit ook doen om gedigte te leer. Dit sit die fun in leer.

4. Doen moeite om ou vraestelle op die internet of by onderwysers op te spoor en oefen, oefen, oefen. Begin studiegroepies en werk saam, motiveer mekaar so. Julle kan ná skool bymekaarkom en mekaar moed inpraat.

5. Daar is baie verskillende maniere om wiskundeprobleme op te los. Jou onderwyser verduidelik een manier. Jy kan altyd YouTube-video's raadpleeg om ander maniere onder die knie te kry – probeer dit. Dalk maak dit vir jou meer sin. Solank jy by dieselfde antwoord uitkom, is die saak reg. Wiskunde gaan oor laterale denke (kreatiwiteit) en dissipline.

Lees nou

60-jarige skitter as swembroekmodel

Inspirasiekos met SARIE: Kook met spanspek

Dié haarstyl oorheers op die rooi tapyt