Maart 2014 was die lewe vir haar ’n donker plek waaruit sy wou vlug. Sy het al hoe meer slaappille gebruik. Maar in April vanjaar verskyn haar agtste CD, waar sy sing oor al die lesse wat sy die afgelope vier hartseer jare geleer het ... “Sprei my vlerke’’ – een van haar gunsteling-liedjies op die CD (dit het nog nie ’n naam nie) – sê presies waar sy nou is, vertel Amor. “Die CD [met sowat 13 liedjies] se teikenmark is veral volwasse vroue, maar daar is baie mense wat daarmee sal identifiseer. Ek dra ’n liedjie op aan my gewese man, Joost [van der Westhuizen, wat in 2011 met motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer is en van wie sy nou vervreem is].

Ek respekteer hom en het hom lief as pa van my kinders, ek sing vir my kinders, daar is liedjies oor hoe gebroke jou hart is as mense dit vertrap, oor swaarkry.

FOTO: Facebook FOTO: Facebook

Die musiek is eg, sensitief. Dit pas by ’n vrou van 40 plus. Ek noem myself deesdae grappenderwys die Desperate Housewife. Dis nie danserige musiek vir ’n teenybopper nie. Ek word op 16 Maart vanjaar 43 en ek moes die afgelope vier jaar met baie hartseer deal.

“Dit is erg as mense jou oordeel omdat jy bekend is. Hulle weet nie wat in jou kop en hart aangaan en dat jy ook baie dinge moet verwerk nie. Maar die CD is ’n wonderlike geleentheid om deur my musiek dalk ’n paar lewenslesse te deel.’’

Sedert die video-seksskandaal met Joost in 2009 op die lappe gekom het – dit was lank voor hy met MNS gediagnoseer is – was daar tye dat sy gewanhoop het aan die mensdom. “Ek het mense te maklik vertrou, te maklik gepraat. Nou besef ek jy praat met jou ouers. My ma, Delyse, en pa, Dario, van Glenvista, is engele. Hulle is só goed met Kylie (9) en Jordan (11). En ek het ’n baie goeie vriendin by wie ek kan stoom afblaas." Joost eet elke aand saam met haar en die kinders, want hy wil soveel moontlik tyd met die kinders bestee. As daar nie ’n helper vir hom saamkom nie, moet sy hom voer.

Hy kan nie meer behoorlik praat nie en soms frustreer dit my, want ek het nie hulp nie – ek kook, dek tafel, ruim op, skarrel met die kinders se skoolwerk. Maar ek voel Joost is hul ‘geskenk’. Hulle moet hom baie sien. Dit is belangrik vir almal.

FOTO: Facebook FOTO: Facebook

Emosioneel stel dit groot eise. “Jordan wil weet hoe mens moet aantrek as jy hemel toe gaan. Hy weet sy pa is besig om te sterf. Ek praat met hulle oor die dood. Vertel maar net dat God jou liefhet soos jy is. Hy sal hul liewe pappa as ’n spesiale engel gebruik – waarskynlik in wit klere . . .”

Met dié bedrywige huishouding was die grootste uitdaging om die CD te maak sekerlik om kop te hou. Die kinders is bedrywig. Tussen Kylie se perdry-, swem-, klavier- en swemlesse, en Jordan se krieket-, sokker- en yshokkielesse en spraakterapie (hy het in November ’n kogleêre inplanting gehad), doen Amor self daagliks oefening. Engiets van draf tot oefen in die gimnasium.

Hoewel sy pal laegraadse depressie het en weet erge depressie (waarvoor sy al in die hospitaal behandel is) kán weer terugkeer, glo sy bedrywigheid beheer depressie.

“Die CD was ontsettende harde werk, maar as iemand in jou glo, motiveer dit jou om nog harder te werk. Jy moet besig bly. Die skeppingsdrang vloei ook sterk as jy jou omgewing verander – verf byvoorbeeld ’n muur geel. Maak alles om jou (en in jou kop!) skoon. Die liedjieskrywers Connell Cruise en Carla Oberholzer het my gehelp en ons het dit eenvoudig gehou. Dit werk altyd die beste.”

Sy is baie opgewonde oor dié CD, want dit is ’n nuwe Amor, met ’n spirituele sy (nie gospel nie!) wat nog nie aan Suid-Afrika gewys is nie.

FOTO: Facebook FOTO: Facebook

“Ek moes baie dinge deurmaak en danksy my geloof, familie, vriende, psigiater en aanhangers kon ek die stryd wen. Dié aanhaling is so waar: Everybody wants to ride with you when you are in a limousine, but when the limo breaks down, and you take a taxi, nobody is there . . .’’

Sy het meer vrede en is gereed vir enigiets van die taxi, limo tot ’n fiets.

En dan, net so terloops: “Ek smag weer na liefde. Die intimiteit van liefde.’’

FOTO-ALBUM: Jordan se 11ste verjaarsdagpartytjie

(Blaai deur die galery)