Die geliefde 7de Laan-karakter Danelle verlaat (vir eers) die Laan. Sy vertel aan SARIE.com waarom sy 'n ruk lank nie op die kassie gaan wees nie. 

Andrea Streso, ook SARIE se voorbladgesig van November, is ’n opgeleide spraak-, taal- en gehoorterapeut, maar moet nog haar prakties voltooi voordat sy ’n gekwalifiseerde terapeut is. Terwyl sy besig was met haar praktiese jaar het sy in Februarie 2013 vir die Kaapstadse oudisies van 7de Laan gegaan. ’n Week later het sy gehoor sy het die rol en is sak en pak Johannesburg toe.

En nou gaan Andrea eers Danelle se skoene uitskop en weer haar spraakterapie-jassie aantrek, want volgende jaar gaan sy haar studies hervat. Sy verduidelik dié besluit aan ons:

"So is die lewe maar. Daar kom onverwags kurwes, opdraande en ompaaie oor jou pad en dié dinge neem nie altyd jou beplanning in ag nie. Die afgelope twee jaar by 7de Laan was ’n absolute voorreg en baie bevredigend. Soos ek in my voorblad-artikel hierdie maand genoem het, is ek gelukkig om my brood nog altyd aan albei kante gebotter te hê en sal ek dit so ver moontlik so wil hou. Ek het byna vier jaar lank studeer om ’n spraakterapeut te word en voel ek moet daardie lewenspad nie meer langer onvoltooid los nie. Die universiteit was tot dusver baie akkommoderend teenoor my verdeelde belangstellings. My besluit om volgende jaar spraakterapie te hervat is een wat my baie swaar op die hart lê. Maar ek gaan steeds een voet in die kunste hou deur voort te gaan met 'n teaterproduksie tot tyd en wyl. Dit is beslis nie die einde van dinge nie!

Dit is vir my baie sleg dat hierdie inligting vroeër dié week prematuur aan die publiek gelek is [daar is in ’n Sondagkoerant berig dat Andrea moontlik 7de Laan verlaat]. Ek het self nog nie die besluit verwerk of volledig besef nie. Dis maar nog baie onlangs bespreek, slegs tussen my, Danie Odendaal en ons lynvervaardiger. Dit plaas die publiek onder ’n wanindruk omdat ek nie beplan om 7de Laan onmiddellik te verlaat nie. Hoewel dit vroeër gebeur as aanvanklik beplan, is dit bloot ’n wyse, weldeurdagte besluit omdat my tyd by die Universiteit Stellenbosch min raak om my laaste 6 maande prakties as spraak-, taal- en gehoorterapiestudent af te handel.

Hoe Danelle 7de Laan verlaat en hoe sy terugkeer, hang van Danie Odendaal af. Ek is mal oor my karakter en hoewel dit Danie is wat die besluit neem, hoop ek om haar gou weer op die TV-skerm te bring.

Dit is maar net deel van die onvoltooide hoofstuk van my studies en ek is hartseer om 7de Laan tydelik opsy te skuif. Dis net ’n effense kurwe in my lewenspad, een van baie voriges en van baie wat nog sal kom."

FOTO: Leana Clunies-Ross FOTO: Leana Clunies-Ross

Gaan jy vir Danelle mis? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad!

November 2014 andrea streso nov

Lees oor Andrea se begindae by die Laan én hoekom haar pa aanvanklik kwaad was oor haar 7de Laan-rol - in die November-uitgawe van SARIE.