’n Span van SARIE het Andrew twee weke gelede, op Maandag 27 Februarie, gesien toe drie van ons die stel van die nuwe Afrikaanse fliek Verraaiers besoek het. Andrew, wat die rol speel van Henry Ahrens, ’n Boer in die Anglo-Boere-oorlog, het dié dag sy 26ste verjaardag gevier en almal op stel het nog vir hom gesing.

Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, sê Andrew was ’n baie saggeaarde, sensitiewe en kreatiewe mens. “Sy voete was vas op die aarde. Hy’t nooit sy opgang kop toe geneem nie.”

Sy dood beïnvloed nie die verfilming van Verraaiers nie, want verfilming is reeds op Vrydag 2 Maart voltooi, sê Gizela Arndt, publisiteitsbeampte vir Verraaiers. “Dit is ’n groot skok vir die hele vermaaklikheidsbedryf en dis vir ons ’n reuse-verlies om so ’n briljante akteur en vriend te verloor,” sê sy. “Ons het geen aanduiding wat daartoe kon lei nie.”

Andrew was vir ’n SAFTA (South African Film and Television Awards) benoem vir beste ondersteunende manlike akteur in die fliek Roepman. Hy het die rol van Hein vertolk. ’n Vriendin het op sy lyk afgekom toe sy hom Saterdagaand wou gaan haal het om saam na die toekenningsaand te gaan.

Hou sarie.com dop vir nog foto's van die Verraaiers-stel