Die Hollywood-ster Angelina Jolie is die voorbladster van Harper's Bazaar se November-uitgawe. Die asemrowende fotosessie is op die Groen-aanbieders Marlice en Rudie van Vuuren se N/a’an ku sê-natuurreservaat afgeneem, wat op sowat 3 200 hektaar oos van Windhoek geleë is.

Angelina en Marlice is al vir 16 jaar goeie vriendinne en het selfs al ’n Kersfees saam op N/a'an ku sê deurgebring. Hulle het op die stel van die 2003-rolprent Beyond Borders ontmoet. Sy vertel in SARIE se Julie 2016-uitgawe: “Dit was eintlik Maddox wat ons paaie laat kruis het. Angelina was kort ná sy aanneming in 2002 in Namibië waar dele van die fliek Beyond Borders in die Namibië verfilm is. In een toneel moes sy ’n aasvoël vrylaat en ek is gekontrakteer om daarmee te help.”

Die pragtige Marlice van Vuuren. FOTO Facebook/ Marlice van Vuuren

Terwyl Angelina eendag op stel besig was, het Marlice gehoor hoe Maddox ontroosbaar huil. Haar moedersinstink het oorgeneem en sy het die kinderoppasser gaan vra of sy kan help. Terwyl sy besig was om Maddox in haar arms te sus, het Angelina se persoonlike assistent opgedaag en ’n kabaal opgeskop oor haar “vermetelheid”.

“Angelina het dit gehoor en my vir ete genooi om verskoning te vra vir haar assistent se optrede.” Hulle het kontak behou en toe Angelina en Brad Pitt in 2006 besluit het om Namibië toe te kom vir hul dogter Shiloh se geboorte, het die Van Vuurens aanvanklik hul hande vol gehad.

Toe Shiloh in Mei verlede jaar nege word, het die Van Vuurens vir haar drie N/a’an ku sê-jagluiperdjies present gegee. Die drie is kort tevore op die plaas gebore en omdat hul (dragtige) ma diabetes ontwikkel het, kon sy hulle nie self grootmaak nie. “Ons het die wyfie na haar vernoem en sy het besluit om die ander twee Odyssey en Wonder te noem,” vertel Marlice. ’n Maand ná haar verjaardag kon Angelina tydens ’n blitsbesoek aan die plaas darem die jagluiperdjies namens Shiloh vashou en liefkoos.

Daar's toevallig drie jagluiperds in Angelina se Harper's Bazaar-fotosessie. Wie weet, dalk is dit daai einste drie jagluipers?

Kyk net die indrukwekkende foto's:

FOTO Instagram / @Harpersbazaar
FOTO Instagram / @harpersbazaar
FOTO Instagram

Sien die volledige fotosessie hier