Die aktrise en TV-aanbieder Angelique Gerber het moontlik weer liefde gevind nadat sy in Februarie aangekondig het dat sy en haar man, Ben-G, gaan skei. Sy en rugbyspeler Jacques Potgieter, wat al vir die Springbokke uitgedraf het, is nog net vriende, maar Angelique is baie opgewonde oor dié vriendskap. "Ek is mal oor hom! Hy is ’n fantastiese mens en baie spesiaal," sê Angelique oor Jacques, wat vir die Waratahs van Australië in die Superrugby-reeks speel. "Maar dis ’n moeilike situasie - hy bly in Australië," vertel sy aan SARIE.com. Sy en Jacques het ontmoet toe hy vroeër vanjaar in Suid-Afrika was vir wedstryde teen onder meer die Leeus en die Stormers.

Ek hou regtig baie van hom, maar dis nog net vriendskap.

- Angelique Gerber oor Jacques Potgieter

Jacques is tans in Suid-Afrika vir sake en gaan Angelique môreaand na die Tempo-musiektoekennings vergesel.

Angelique en die man wat haar weer hoop gegee het - Jacques Potgieter FOTO: verskaf Angelique en die man wat haar weer hoop gegee het, Jacques Potgieter.
FOTO: verskaf

Nuwe begin vir Angelique Gerber

"Hy is die soort ou wat die ekstra myl sal loop. Hy doen baie moeite vir almal wat hy ken; hy hanteer almal dieselfde en met respek. Dis vir my sy mooiste eienskap.

Angelique groet Boer soek ’n vrou

"Ek het nou weer nuwe hoop dat daar regtig goeie ouens is," wei sy uit. "En as dit gebeur dat ek en Jacques bymekaarkom, sal dit goed wees. Maar ons vat dit baie stadig. Ek is nog te bang en daar is sekere goed in my hart wat nog eers gesond moet word. Dit sal onregverdig teenoor hom wees as ek nie my hart eers gesond kry nie."

Intussen maak Angelique, wat nog altyd baie van rugby hou, seker dat sy Jacques ook op die rugbyveld sien uitdraf. Sy reken hy is tans een van die beste spelers ter wêreld.

"Hy lyk vir my soos ’n hooligan terwyl hy rugby speel! Maar ek is mal daaroor, want eintlik is hy baie gentle," sê sy. Sy verduidelik dat Jacques nie net hope rugby-talent het nie, maar ook baie hard werk. "Hy gee 150% op die rugbyveld en hy doen dít eintlik met als in sy lewe. Ek is ook so."

Angelique Gerber en die rugbyspeler Jacques Potgieter FOTO: verskaf Angelique Gerber en die rugbyspeler Jacques Potgieter
FOTO: verskaf

Donnalee Roberts dra Angelique se ontwerp by première

Soos wat dié twee mekaar nog beter leer ken, vind Angelique dat hulle eintlik baie dieselfde is. Sy meen Jacques is ’n baie eerlike ou - soms byna té eerlik. Maar dit pla haar nie, want dis net nog ’n eienskap wat hulle met mekaar deel.

Miskien het Angelique tog nou ook haar "boer" gekry …