Die eerste keer toe Werner Kruse, video- en natuurlewe-fotograaf in Antarktika gewerk het, wou hy nie weer huis toe gaan nie. “Die plek doen net iets aan jou ... die stilte, die mooi, die grootsheid, dit verander iets hier binne jou wat jy nie kan beskryf nie,” vertel hy.

Selfs ná sy tweede besoek het hy nie die woorde nie, sê Werner via Skype vanuit New Jersey, Amerika, waar hy tydens die onderhoud in selfkwarantyn was. (Hy was hier gestrand op pad terug van Antarktika, waar hy van Oktober tot Maart fotografiekursusse op ekspedisieskepe aangebied het.)

Werner het al foto’s in 112 lande geneem, maar Antarktika troef selfs sy gunstelingplek, Tahiti. “Dis in ’n klas van sy eie, jy kan dit nie vergelyk nie.” Hy het lank daarna gehunker om die wit kontinent (die laaste van die sewe) te beleef. “Almal het hul eie storie hoekom hulle soontoe wil gaan, soos ’n fassinasie met Ernest Shackleton [die Suidpool-verkenner] en daardie drang om te verken. Maar ek is gelok deur die wildheid en die andersheid van die natuur. Die pikkewyne, die walvisse, die sneeu, die ysberge.”

SA fotograaf Werner Kruse FOTO Gregers Gjersøe

Toe hy einde 2018 uiteindelik die eerste keer die kans kry om ’n ekspedisiegids daar te wees en ’n fotografiekursus vir passasiers op ’n ou Russiese ekspedisieboot aan te bied (hy het drie jaar lank aanhoudend e-posse gestuur aan al die betrokke reismaatskappye) is sy wildste verwagtinge oortref, vertel hy. “Dit was ’n mistige dag, amper misterieus ... die wêreld het so voor ons oë begin ontvou, wat dit nog meer mindblowing gemaak het. Eers sien jy ’n stukkie berg uitsteek, hoog bo die mis, en jy verwonder jou, dan begin enkele wolkies wegtrek, en nog ’n groter stuk word hoër op onthul ... Al hoe meer en meer totdat jy besef hoe groot en grensloos die plek is.”

Besoeke aan die Antarktiese skiereiland word streng gereguleer. Werner en sy groep, wat van amateur- tot professionele fotograwe insluit, vaar in rubberbote van hul skip na spesifieke landingsplekke. Daar word nooit meer as 100 mense toegelaat nie en jy mag net water saamneem. (Voordat jy in Antarktika kom, word jou klere ook gestofsuig om te verseker dit bevat geen sade nie. Dis om te voorkom dat indringerspesies op die vasteland beland.) Benewens enkele ou navorsingstasies op ’n paar van die landingsplekke, is dit meestal net jy en die natuur ...

FOTO Werner Kruse

In Oktober verlede jaar het Werner ’n vroegseisoen-gelukskoot getref. “Op ’n dag het ons die eiland Cuverville besoek, tuiste van die grootste gentoe-pikkewynbevolking op die skiereiland, sowat 10 000 broeipare. Die oggend was daar net ’n paar pikkewyne, besig om plekkies uit te soek om nes te bou sodra die sneeu gesmelt het. Maar in die loop van die dag besef ek toe skielik: Dit is letterlik dié dag wat ál die pikkewyne besluit het om land toe te kom. Ek het foto’s van ’n skoon spierwit landskap met enkele pikkewyne én foto’s met derduisende pikkewyne ... almal op dieselfde dag!” Dit was soos om die groot Serengeti-migrasie van die wildebeeste te sien – “vroegoggend het ons met gemak rondgeloop, later moes ons pal wag vir ’n pikkewyn om verby te kom”.

Pikkewyne het altyd voorrang (the right of way) en jy moet minstens vyf meter van hulle af bly. Een van dié foto’s is vanjaar deur National Geographic as een van hul topvyf in ’n natuurlewe-kompetisie op sosiale media aangewys – ongelukkig moes die wenner ’n Amerikaanse burger wees, maar dit was “steeds ’n lekker pluimpie”.

FOTO Werner Kruse

Werner het altyd sy kamera by hom nadat hy eenkeer moes hol om sy kamera in sy kajuit te gaan haal om moordwalvisse vas te vang wat ’n krapvreter-rob van ’n ysskots probeer afstamp. In die proses het hy sy toon gebreek, maar hy’t die foto gekry!

Daar is heeltyd iets interessants aan’t gebeur. Ná twee of drie keer op dieselfde plek sal hy verveeld raak, maar op Antarktika is dinge nooit staties nie, verduidelik Werner. Die weer is onvoorspelbaar, die pikkewyne gaan deur verskillendes fases en dis nie “net wit”, soos party mense sê nie.

“Die sneeu en gletsers skep skouspelagtige teksture en vorms. En daar is sonsondergange wat lyk of dit met Photoshop gedokter is, veral in Desember en Januarie wanneer die son nooit werklik ondergaan nie,” sê hy.

Soms, as die weer dit toelaat, kamp hulle op die ys en slaap buite in gate wat hulle self in die sneeu grawe. Die vorige keer het hulle wakker geword met pikkewyne wat wagstaan en minkewalvisse in die baai ...

Klimaatsverandering is altyd ter sprake wanneer mense hoor Werner was al in Antarktika. “Al is ek nie ’n wetenskaplike nie, kon ek die verandering sien toe ek die twee toeristeseisoene vergelyk – die sneeu het aansienlik vinniger en vroeër gesmelt as die vorige jaar,” sê hy. Hulle het dié seisoen ’n “eienaardige hitte” beleef. Dit was een dag in Desember selfs 17 °C, waar dit gewoonlik tussen -5 °C en 2 °C is (die windverkoelingsfaktor uitgesluit).

Vir Werner was die minder sneeu ’n lekker uitdaging om foto’s op ander, kreatiewe maniere te skiet, soos om te fokus op ysberge se vorms. Hy wil nog Suid-Georgië, een van die sub-Antarktiese eilande – ’n fotograaf se paradys met robbe, albatrosse en koningspikkewyne – verken. En ook Antarktika se keiserpikkewyne beleef, wat jy per helikopter kan besoek.

FOTO Werner Kruse

Hy kan dié voëls vir ure dophou, vertel hy. “Nou die dag het ’n gentoe voor my kom staan en omtrent vier minute lank net vir my gekyk, terwyl ek sy geluidjies probeer namaak het. Hulle is so vermaaklik, van die chinstraps [bandkeelpikkewyn] tot die adéliepikkewyne, hulle loop en val en loop en val, of ‘gly’ by die hellings af, [tobogganing, word dit genoem] en soms steel hulle mekaar se klippies om ‘neste’ te bou wanneer die ander nie kyk nie!”

Die plan is dat hy in Julie of Augustus Noordpool toe gaan om ysbere en eenhoringvisse (narwhales) te fotografeer, maar weens die corona-pandemie is dit nog in die weegskaal.

In Oktober wag Antarktika weer. “As ek daardie eerste oggend wakker word met die wit berge wat my omring, voel dit vir my ek is by die huis.”

FOTO Werner Kruse