Hy het die idee om 'n superheld- TV-reeks van sy lewe te maak gekry van die bynaam wat hy as goewerneur gehad het. Dié bynaam, Governator, is 'n samesmelting van sy politieke rol en een van sy bekendste rolprente, Terminator.

Stan Lee, wat onder andere die skepper is van Spider-Man, The Hulk en X-Men, gaan ook by die projek betrokke wees, het Arnold aan Entertainment Weekly vertel.

Die strokiesprent Governator gaan oor Arnold se lewe, veral sy verlede. Hy het sy loopbaan begin as liggaamsbouer en het later filmster geword met rolle in talle aksieflieks. Daarna het hy die politiek betree.

"Die Governator gaan 'n fantastiese superheld wees", vertel Stan Lee. Dis ’n strokie vir kinders en die held gaan misdaad bekamp met behulp van sy tienerhelpers. Een van dié helpers is Zeke Muckerberg, 'n 13-jarige rekenaarfoendi wat gebaseer is op Mark Zuckerberg wat Facebook begin het.

Nog 'n Hollywood-legende wat nuwe projekte aanpak is Sylvester Stallone. Hy het pas die modewêreld betree met sy Rambo- en Rocky- geïnspireerde klerereekse. Dit was twee van sy bekendste rolle.

Sy handelsmerk, Sly Inc., sal binnekort items soos jeans, hemde, onderklere en horlosies bekend stel.
Hy beplan ook om brille, parfuum, skoene en sportdrag onder dié name te vervaardig.