Ons het by ’n paar bekende vroue gehoor hoe hulle die spesiale dag vier, én gevra wie vir hulle die grootste inspirasie in hul lewe is:

Rolanda Marais: “Ek het vir môre, Vrouedag, ’n klomp van my vriendinne genooi na middagete by my huis. Ek kry nooit tyd vir so iets nie, daarom sien ek baie uit daarna. Ek gaan hulle lekker bederf.”

Grootste inspirasie: “My ma, Charlotte, is my grootste inspirasie. Sy en my suster Rentia. My ma is in die Kaap, daarom sien ek haar nie môre nie, maar Rentia kom na die ete toe.”

 Angelique Gerber Angelique Gerber: "Ek het die laaste ses weke ongelooflik hard gewerk aan Boer soek ’n vrou en sien nou uit na ’n rustige dag saam met Ben-G, my verloofde. Ek bederf myself vandag met ’n lekker manikuur en pedikuur, maar môre gaan ons net ontspan."

Grootste inspirasie: “My ma, Lynette. Sy is altyd daar vir my en doen regtig baie vir my. Ons het Sondag gaan koffie drink vir Vrouedag.”

 Vickey Davis Vicky Davis: “Ek werk môre aan ’n Pasella-opname. Maar die aand gaan ek na ’n vertoning in die Fugard-teater in Kaapstad. Ek gaan na die sangeres Michelle Shocked luister.”

Grootste inspirasie: Vir Pasella het ek onlangs ’n onderhoud met Helen Zille gevoer. Sy is die mees inspirerende mens wat ek nog ontmoet het. Ek bewonder haar regverdigheid en hoe goed sy haar tyd verdeel.”

 Brumilda van Rensburg Brümilda van Rensburg: “Op Vrouedag self maak ek ’n toespraak by ’n klein geselligheid. Die boodskap wat ek vir die vroue wil bring is om die roads less travelled te kies en om risiko’s te neem. Ek dink dit is baie belangrik dat jy nie in ’n groef verval nie.

En die 10de, Woensdag, het ons ’n groot Vrouedag saam met FNB in Sandton. Dit is ’n Diva-dag om vroue se lewens en liefde en gesondheid te vier. Ons gaan oormaaksessies doen en daar is pryse wat gewen gaan word – dit gaan fantasties wees.”

Grootste inspirasie: Graca Machel is iemand wat deesdae baie in my gedagtes is. Sy sien so mooi om na Madiba, en ek dink sy verdien al die erkenning in die wêreld daarvoor.

My ma, Freda, is ook vir my ’n groot inspirasie.

 Therese Benade Therese Benade: “Ongelukkig werk ek op Vrouedag, en het ek nie iets beplan vir die aand nie, maar dalk gaan Marcus (Muller) my verras...”

Grootste inspirasie: “Helen Zille inspireer my regtig baie. Sy staan op vir dit  waarin sy glo ten spyte van teenkanting. En dit boonop in ’n moeilike politieke klimaat waar daar nie baie vroue is nie. Sy bly altyd eerbaar en ’n inspirasie vir my.”

 Amoré Bekker Amoré Bekker: “Op Vrouedag lewer ek ’n praatjie in Kimberley. My tema vir die toespraak is Vroulike Instink. Daardie sesde sintuig wat uniek is aan vroue. Ek gaan praat oor hoe om na dié instink te luister.

Grootste inspirasie: “My heldinne is swart en bruin vroue wat heeldag wit kinders oppas terwyl hul eie kinders by die huis is en dikwels nie iemand het wat na hulle kyk nie. Ek kan myself net indink hoe dit moet voel en hoe bekommerd jy moet wees om ander se kinders op te pas terwyl jou eie by die huis is.”

Maak nie saak hoe jy Vrouedag 2011 vier nie, ons hoop jy het ’n heerlike dag vol vreugde en inspirasie!