'n Volle tien dae voor haar beplande geboortedatum op 8 Julie het Brioné Liandri Wahl Sondag haar opwagting gemaak.

Sy het die skaal op 2,91 kg getrek en is 53 ½ cm lank.

"Sy het tien tone en tien vingers en haar sussie, Kiana, se grootste maatjie," het Bertha Maandag op Facebook aangekondig.

Toe SARIE gister bel met gelukwensinge het ma en baba rustig geslaap.

Pa Karel het vertel dit was 'n watergeboorte soos dié van ousus Kiana (3). "Brioné is by die huis gebore en sy en haar mamma vaar beide goed," sê hy.

Bertha het vroeg in Junie haar kollegas by 7deLaan vir 'n wyle gegroet om bietjie te gaan ontspan voor die baba se koms.

Die sokkergees het sedert die begin van die Wêreldbeker hoogty gevier in die Wahl-huishouding in Johannesburg. Bertha en haar gesin is groot sokkerondersteuners en op 11 Junie het selfs klein Kiana haar Bafana Bafana-hempie aangehad en die landsvlag op haar wang laat verf.

Bertha het behoorlik die slapies na die geboorte afgetel en in 'n stadium gehoop "sussa" kom nie laat nie!

Twee dae voor Brioné se koms, het Bertha nog Toy Story 3D saam met Kiana gaan sien.

Bertha het die laaste ruk gesukkel met sooibrand en verskeie rate gevolg, selfs om meer regop te probeer slaap.

Met Brioné se haastige aankoms, sal die nuwe klein Wahltjie gelukkig die spannendste deel van die Wêreldbeker kan meemaak.

Dink net, as iemand haar eendag vra waar was sy toe die groot sokkergebeurtenis in Suid-Afrika gehou is, sal sy kan sê: "Ek was daar! Ek is toe gebore!"