Bertha le Roux, alom bekend en bemind as die karakter Emma in die SABC 2-sepie 7de Laan, het sowat 2 jaar gelede begin om ’n DVD en CD, GodLiedjies, "’n soort Wielie Walie vir Jesus", saam te stel vir kinders van twee tot tien.

"My dogtertjie Brioné (4) het altyd wanneer ons in die motor geklim het, gesê: "GodLiedjies, Mamma, GodLiedjies!" En so het sy besluit op die naam. "Ek was nog altyd ’n kind van die Here, maar sowat vier jaar gelede, ná my pa, Braam, se afsterwe, het ek daarna begin smag om nóg meer oor God te leer.

"Ek wou ook vir kinders, wat gebombardeer word met allerlei helde op die televisie, wys dat daar eintlik net één superheld is: Jesus. Hy is so lief vir kinders, vir álle mense, en ek wil hê hulle moet dit besef."

Bertha wil dié CD/DVD binne die volgende jaar uitreik en is positief dat sy ’n borg sal vind om dié droom te bewaarheid. "Ek het al 13 liedjies se lirieke geskryf en sing dit met backtracks. Die woorde en musiek is maklik. En ’n mens sal eenvoudige dansies op die vrolike wysies kan doen. My dogter Kiana (7) help my ook met die skryf van die liedjies,’’ sê dié mezzosopraan.

FOTO: Verskaf FOTO: Verskaf

Sedert verlede jaar bied sy ook interaktiewe kinderkonserte van verhale uit die Bybel by onder meer kerke en skole aan. Dié konserte is kortliks ’n interaktiewe verhaal uit die Bybel, byvoorbeeld Daniël in die Leeukuil, waar kinders deelneem met vrae wat beantwoord word en party selfs karakters word in die verhaal. "Ons sing ook ’n oorspronklike liedjie en maak ’n kunsvlyt-item ná die vertoning. Ek het soveel positiewe terugvoer van ouers by die NG gemeente van Randfontein in Gauteng gekry.

"Die Kerskonsert by die Alice Art-kunsgalery in Ruimsig aan die Wes-Rand was ook heerlik. Vir dié vertonig het ons hand-afdrukke gemaak en dit omskep in prentjies van Jesus in die krip. Ek hou van die interaksie met die kinders en ek wil vir hulle daardie lewensbelangrike verbintenis met Jesus gee."

Later, wanneer die eerste DVD/CD (hopelik) eers goed vlam gevat het, beoog Bertha om ook dié CD’s en DVD (lg. sal die vorm aanneem van bogenoemde kinderkonserte) uit te reik in van die ander landstale.

Meer as net Emma

"Dit is nogal ’n uitdaging om die publiek te laat besef dat ek soveel méér is as bloot 'Emma van 7de Laan'. Ek het darem ook ander belangstellings. Ek kan sing, is lief daarvoor om met kinders te werk, hou daarvan om te organiseer. Ek geniet dit om toesprake en kort optredes vir volwassenes te hou oor wat God in my lewe beteken.’’

  • Bertha gee 10% van die wins uit bogenoemde projekte aan die liefdadigheidsorganisasie Feed a Child, wat haar baie na aan die hart lê. Kontak haar gerus by godliedjies@lifeinabulb.co.za

FOTO: Verskaf FOTO: Verskaf

Lees nou