"Gewoonlik is jy binne 'n dag uit die hospitaal ná 'n galblaas operasie. Maar ek het ná drie dae erge buik, bors en rugbpyn by die huis gekry. Die ambulans het my kom kry by ons huis in Johannesurg en teruggeneem na die Olivedalke Kliniek in Johannesburg."

Die gal het ná die operasie na haar buik gelek. "My organe het gebrand. Die dokter moes my ingewande skoon was. Ek was 15 dae in die hospitaal ná die terugslag. Dit was 'n week lank baie seer. Ek het gehoor dit kan báie gevaarlik wees. Die tweede week het ek die heeltyd gehuil. Dis erg as jou lyf jou so in die steek laat. Ek het baie verlang na my twee kleintjies, Kiana (5) en Brioné (20 maande.)"

Gelukkig het haar ma, Griet le Roux, wat in Saldanha woon, haar man, Karel, gehelp om die kinders op te pas. "My ma is wonderlik en my man is 'n ongelooflike pa. Hy het ook elke dag vir mý iets spesiaal gebring hospitaal toe: boeke, lekker handeroom en 'n Marmite-broodjie as ek daarvoor lus was."

Bertha het sedert sy begin naar word het vóór die operasie, tot nou ('n maand daarna), reeds tien kilogram verloor. "Ek probeer ook gesonder eet en suiwel-produkte en vetterige kos vermy. 'n Mens moet leer om te luister na jou liggaam."

Sy sê dokters is nie seker wat galstene veroorsaak nie. Dit kan oorerflik wees. "My een oupa se galblaas is ook verwyder." Lae ystervlakke kan dit ook veroorsaak...

"Ek voel nog nie honderd persent reg nie. Dit neem so vier maande ná die operasie voor jou organe en spysvertering herstel. En ek is nog baie moeg, waarskynlik ook weens die narkose. 7de Laan was baie goed vir my. Hulle het Emma 'n paar weke 'uitgeskryf'. Sy het hallusinasies gekry en toe na haar ma gegaan...”