Die rooi baadjie? Of wag, dis te boksie-rig, liewer die grys trui, met die . . . nee, maar dan pas die skoene weer nie daarby nie!

Staan jy elke oggend twintig minute voor die spieël en tob oor wat om aan te trek? Jy’s glad nie alleen nie!

Britse klere-handelaar Matalan het navorsing gedoen oor vroue se aantrek-gewoontes. Ons verloor glo byna een volle jaar van ons lewens aan besluitneming daaroor! Die studie, onder 2 491 vroue tussen 16 en 60, bevind ook vroue staan maklik 20 minute en wonder oor watter rok, welke oorbel, en dis heel standaard om twee uitrustings aan te probeer voor jy vir jouself reg lyk. Elke tweede vrou vat boonop saans 15 minute om die volgende werksdag se klere te bedink.

En pak jy in vir vakansie, staan jy sommer 52 minute met die tas voor jou, kasdeure oopgegooi.

Mens wonder nou net . . . wat kon ons nie alles met daai tyd gemaak het nie?