Beyoncé en Jay-Z verwag hul tweede kind. Die gerugte het begin om die rondte te doen ná Beyoncé by vanjaar se Met-Gala 'n Givenchy-rok gedra het wat haar maag behoorlik toegehou het. Die ontwerp was só dat jy skaars 'n verandering in haar middel sou kon agterkom.

Teen verlede Dinsdag het die skindertonge behoorlik oor die 'swangerskap' geklap toe Beyoncé haar Mrs. Carter-vertoning in Antwerpen moes kanselleer omdat dokters haar aanbeveel het om te rus. Die sangeres het glo aan 'dehidrasie en uitputting' gely.

Die 31-jarige sangeres het onlangs op die ABC-nuuskanaal vertel dat sy graag nog kinders sou wou hê, en dat sy dink haar 1-jarige dogtertjie, Blue Ivy, kan doen met geselskap. Nie Beyoncé of Jay-Z se woordvoerder kon vir kommentaar bereik word nie.

Wat dink julle? Gaan dit dogtertjie of 'n seuntjie wees?