Vir altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle hou ons op hoogte oor die verfilming. 

Die kameras het dié week begin rol by die simboliese Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Wat ’n voorreg om ’n Afrikaanse film te kan maak by die plek waar ons moedertaal haar oorsprong gevind het!

Die Taalmonument is vanjaar 40 jaar oud en Vir Altyd neem deel aan die vieringe deur tonele vir die fliek in Volksmond, die koffiewinkel by die Taalmonument, te skiet.

Na ’n paar mistige oggende het ons die son met ope arms verwelkom toe sy eindelik gesig wys. Ons het berge uitgeklim om die mooi van dié wêreld op kamera vas te vang.

Een van die Paarl se grootste, en beslis mooiste, bakens is die NG Gemeente Toringkerk. Die groot roomkleurige gebou staan bo meeste van die geboue in die Paarl uit. Ons het die voorreg gehad om daar te skiet, en was verstom oor dié prentjiemooi gebou.

Die week is afgesluit met ’n hoogtepunt toe ons die troue van die jaar verfilm het. Rheboksloof wynlandgoed het sprokiesmooi gelyk vir Nina (Donnalee Roberts) se groot dag.

Alle fotos is geneem deur Jacques Loots (keyart.co.za)

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

#VirAltyd #12Feb2016

Lees ook