Vir Altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle hou ons op hoogte oor die verfilming. 

Na die statige troue in die Toringkerk verlede week afgehandel is, kon die partytjie hierdie week voortgesit word op die stel van Vir Altyd.

By Rhebokskloof het ons die ligte vroegskemer begin oprig; die rookmasjiene het begin blaas en die kameras was reg om te rol om die geleentheid te vervolmaak voor die skerms.

Na die partytjie het ons afskeid geneem van die die twee nuwelinge, Caylem Else en Nicky de Kock. Almal het verlief geraak op die twee pragtige kinders wat die klein Hugo en klein Nina so mooi vertolk het.

’n Paar ander akteurs het ook klaargemaak op stel en ons moes totsiens, maar nie vaarwel sê aan Hélène Truter, Andre Stolz, Geon Nel en Deidre Wolhuter.

Die laaste week van produksie in die Paarl het op ’n hoogtepunt (letterlik en figuurlik) op die Paarl-rots afgesluit.

Ons is baie dankbaar teenoor die Drakenstein-munisipaliteit en -natuurreservaat wat ons gehelp het met die toegang en veiligheid op die rots.

Komberse, jasse, serpe en mussies was nie genoeg om ons op die rots warm te hou nie, maar gelukkig het ons vir Owen in ons span – die eenheidbestuurder wat ’n ketel aan die kook kon kry in die middel van nêrens.

So groet ons die Paarl, en ons tasse is gepak vir Mauritius!

Alle stelfotos word deur Jay Loots geneem.

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

Lees ook