Vir Altyd is die nuutste fliek uit die kraal van Pad na jou hart se vervaardigers, skrywers én hoofrolspelers, Donnalee Roberts en Ivan Botha. En, soos Pad na jou hart, beloof dié rolprent groot dinge. Hulle gee vir SARIE.com ’n eksklusiewe kykie agter die skerms. 

"In die laaste week van produksie was ons op verskillende toeriste-uitstappies. Ons eerste stop was by La Vallee des Couleurs, ’n bekende baken waar 23 verskillende kleure in die berge en dale van Chamouny gesien kan word.

Die volgende dag het ons saam met die Mauritius Tourism Promotion Authority (MTPA) ’n Colour Festival, wat uniek aan Mauritius se ryk kultuur is, bygewoon. Dié spesiale fees het plaasgevind by die pragtige Belle Mare-ruïnes, ’n murasie waar ’n suikerfabriek jare gelede afgebrand het. Die kleure, danse en humor van die dag het gesorg vir baie opwinding en ’n aangrypende atmosfeer voor die kamera.

’n Plaaslike mark in die Flacq-omgewing was die volgende bestemming. Die groot verskeidenheid mense, besige smouse en stalletjies met groente, speserye, klere, skoene en fieterjasies het gesorg vir ’n pragtige palet waar nog ’n lekker toneel in Vir Altyd geskilder kon word.

Ons het ook die natuurskoon van Mauritius vanaf ’n katamaran op die see aanskou. ’n Vloot regatta-bootjies wat in die agtergrond seil, het die belewenis op die boot afgerond. ’n Dag van skiet op die water vol opwinding én uitdagings.

Baie dankie aan julle almal wat Vir Altyd se produksie-blog gevolg het. Om die avontuur verder saam met ons voort te sit, like ons Facebook-blad by Vir Altyd Film en twiet saam by @Viraltydfilm. Ons kan nie wag om op 12 Februarie 2016 alles met julle te deel op die grootskerm nie.

Die Vir Altyd-filmspan wil baie dankie sê aan World Leisure Holidays en Long Beach wat hierdie wonderlike ervaring moontlik gemaak het.

Vir altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE tree as trotse mediavennoot op.

Lees ook