“Dis maar vir enige ouer ’n skok,” het Bobby pas aan SARIE gesê. “Jy voel baie magteloos.”
Dis veral swaar vir Annatjie, sy vrou, wat weer swanger is. “Dis moeilik om hierdeur te gaan terwyl sy swanger is, maar sy hanteer dit eintlik baie goed,” sê hy.

Sion het sowat drie weke gelede siek geraak, maar hulle het eers gedink dis net verkoue. Dit het toenemend erger geraak en in brongitis ontaard. Toe hulle vir die derde keer in hierdie tyd met hom na hul huisdokter toe gaan, het dié gesê klein Sion moet in die hospitaal opgeneem word.

Hy’s sedert Maandag in isolasie in die Kloof-hospitaal in Pretoria. “Hulle hou maar net die longetjies dop,” sê Bobby. “Ons kan niks doen om hom te laat beter voel nie, ons kan net bid en smile.”
Hulle hoop hy kan Saterdag huis toe gaan. Intussen is hulle soveel moontlik by hom. “Anna slaap hier. Ek is tussen die hospitaal en die ateljee.”

Toe die hospitaal-personeel gister vir Sion ’n drup ingesit het, het Annatjie erger gehuil as Sion, vertel Bobby met ’n laggie. “Ag maar eintlik is sy baie sterk.”