"Polisiestasie is altyd ’n lekker plek om te wees............. NOT. Besig om ’n saak van diefstal oop te maak na ons goed op OLX 'verkoop' is," twiet Bobby van Jaarsveld.

Dít is nadat Bobby en sy vrou, Annatjie, hul eetkamerstel deur ’n webtuiste wou verkoop. Volgens Bobby het hy besluit om hul eetkamerstel (met plek vir 10 tot 12 mense) op dié webblad te verkoop omdat hy en Annatjie gedink het dis tyd vir ’n nuwe stel.

Volgens hom het ’n koper hom gekontak en aangebied om R15 000 vir die eetkamerstel te betaal. Dié persoon het glo sy water-en-elektrisiteitrekening en bewys van behuising aan die sanger gestuur voordat die transaksie beklink kon word.

"Hy het vir ons ’n bewys van betaling ook gestuur," sê Bobby aan SARIE.com. Maar die geld is nie in die Van Jaarsvelds se rekening oorgeplaas nie. Hy verduidelik dat die koper toe aan hom gesê het dat die geld nie dadelik inbetaal is nie, omdat hul rekeninge by verskillende banke is.

Bobby het toe glo selfs die mense gehelp om die eetkamerstel te laai, maar steeds nie geld ontvang nie.

"Toe dit bietjie lank word en ek die ou weer bel om te hoor waar die geld is, was sy foon af."

Dis toe dat die Van Jaarsvelds prokureurs toe is. Bobby sê die prokureurs het hom meegedeel dat die identiteitsdokumente en ander bewyse als vervals is. En toe hy die naam van die koper aan die polisie gee, het hulle vertel dat hulle dié man al lank soek.

"Ons hoop nou maar net die versekering betaal uit," het ’n verslae Bobby gesê.

HET JY OF IEMAND WAT JY KEN DIESELFDE OORGEKOM? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad!