kykNET se nuwe realiteitsprogram, Jy is my Liefling, help Hartiwood Films om die nuwe ster te soek vir die verhoogproduksie van Liefling, wat vanaf 1 Junie in die Staatsteater in Pretoria opgevoer gaan word.

Kykers kan die soeke na dié meisie vanaf 28 April op kykNET volg. Die finale wenner word gekies deur ’n paneel van drie beoordelaars – Nadia Beukes, André Schwartz en Johan Heystek. Daar is ook elke week ’n ander gas-beoordelaar op dié program.

Bobby van Jaarsveld

Soli Philander is die pittige aanbieder wat al die beoordelaars op hul tone hou.

Bobby, wat weer die rol van Jan vertolk, glo Liefling moet sprankelend en mooi wees.

“Maar die belangrikste is of sy die rol kan speel en of ek en sy kliek,” sê Bobby, wat die meeste uitsien na die leerskool wat sy eerste verhoogblyspel gaan bied.

Bobby van Jaarsveld

Lika Berning (hooffoto), wat die rol van Liefling in die fliek vertolk het, bly deesdae op ’n plaas naby Plettenbergbaai saam met haar man, Clyde, en hul seuntjie Hugo. Sy fokus nou eerder op haar gesin en is daarom nie beskikbaar vir die verhoogblyspel nie.

“Aan die begin was daar finaliste wat nie eers in die stort moet sing nie,” sê André. Onder die eerste 500 finaliste was daar selfs mans, maar uiteindelik kan net een Liefling wees.

Bobby van Jaarsveld

“Die uitdaging is nie om iemand met talent te kry nie, maar om iemand te kry wat in die boksie pas van wie Liefling is,” sê Nadia. Sy sê dis iemand wat avontuurlustig is, maar ook kwesbaar lyk én klink.

“Sy moet tegnies kan sing, want op die ou end moet sy by die musikale verwerkings en die ander sangers kan aanpas,” sê Johan, wat die fliek se musikale regie behartig het.

Jy is my Liefling wys vanaf 28 April om 19h30 op kykNET (Dstv-kanaal 144).