Hy het aan sy aanhangers op Twitter gesê: “Gaan nou my Tattoo try remove....sal nou i foto stuur...spyt kom altyd te laat...spesiaal met ink op jou lyf...” In ’n onderhoud met SARIE het hy gesê hy het besluit om die tatoeëermerk te verwyder omdat hy voel dit straal nie ’n goeie beeld uit nie. “Aan die begin is dit lekker om ’n tatoe te hê, jy voel cool... maar na ’n ruk raak jy moeg daarvoor, veral as dit die hele tyd visible is,” vertel hy. “Ek voel veral sleg as kinders sê hulle wil ook so ’n tatoe kry, want ek besef ek is in dié opsig nie ’n goeie voorbeeld nie.” Bobby is baie spyt oor sy tatoeëermerke. “Toe ek destyds besluit het om dit te kry het ek op Christelike simbole besluit, want ek wou iets moois laat opsit, iets wat my verhouding met die Here sou laat groei. Maar nou besef ek dat ons nie die kruis aanbid nie, maar ’n Lewende God. Hy lewe nie in simbole nie, maar in ons harte.” Hy verduidelik dat die proses taamlik pynlik was. “Hulle sny met ’n lemmetjie in die vel in waar die tatoe is, dan spuit hulle iets wat soos onderlaag lyk daar in. Dit absorbeer die ink en verbloem die merk.” Die groot tatoe op sy skouer is nog daar, want dit is baie groot en gaan lank neem om te verwyder. “Ek besluit nog of ek hom ook gaan laat verwyder.”