Hulle is rugby-adel – haar pa én sy pa en oupagrootjie was immers top-rugbyspelers. Dit kon byna nie anders nie dat die Bok en Blou Bul Jan Serfontein en Lani Scholtz, ’n kranige tennisspeler, ewig trou aan mekaar sou beloof nie ...

LJ_-74

FOTO Kristi Agier

Op laerskool was hy al bewus van die langbeen-blondine met haar groenblou oë op die tennisbaan. Maar dit was eers in matriek, ná ’n melkskommel-date met Lani Scholtz, dat die Bok-senter en Blou Bul Jan Serfontein sy skaamheid in die sak gesteek en haar amptelik sy meisie gemaak het.

Die liefdesverhaal het momentum gekry danksy sy pa, Boelie, op sy dag nommer agt vir die Oostelike Provinsie se rugbyspan. “My pa het oom Calla, Lani se pa [heelagter vir die Westelike Provinsie in die 1980’s], geken. Toe reken hy ek moet ’n bietjie vir Lani langs die tennisbaan gaan hallo sê.” Albei was kranige tennisspelers op skool en Lani sê hulle was altyd bewus van mekaar tydens nasionale tennistoernooie. “Ek was op my dag die nr. 1-tennisspeler vir Maties,” vertel sy. Haar broer, Nik, is ’n Springbok-tennisspeler. “Ek en Jan speel steeds graag tennis.”

LJ_-87

FOTO Kristi Agier

Die twee ouerpare is baie dankbaar oor hul onderskeie skoonkinders. Jan se ouers, Boelie en Desiré, wat in Bloemfontein woon, en Calla en Lizahn, op ’n Overbergse plaas naby die kunstenaarsdorpie Greyton, het baie gemeen danksy ou rugby-bande. En Jan se beroemde oupagrootjie, wyle Jack Slater, wat ’n Springbok-vleuel was, sou vir seker ook ’n glasie op die troue geklink het.

LJW_-512 FOTO Kristi Agier

Die verliefdes is kennelik mal oor mekaar. ’n Week voor hul troue op 20 Februarie deel hulle telkens ’n intieme kykie tydens ons onderhoud. “Ek is eintlik die een wat drukkies uitdeel,” vertel Lani. “Ek kla nie,” sê Jan. Hy is ’n man van min woorde. “Gelukkig is Lani die prater.” Sy lag: “Soms dalk te veel.”

LJ_-73

FOTO Kristi Agier

Gewapen met die liefde en jeugdige idealisme, skrik min dinge hulle af. Met Jan wat rugby gespeel het in Pretoria en Lani wat studeer op Stellenbosch, het hulle die afgelope vier en ’n half jaar in hul pendelverhouding geleer vasbyt in die liefde. “Om oor die foon te baklei was veral baie moeilik,” sê Jan. En Lani voeg by: “Gelukkig is Jan vrygewig en het my elke paar weke met ’n vliegkaartjie bederf.”

LJ_-53 FOTO Kristi Agier

Kort ná hul troue op die La Paris-landgoed buite Franschhoek het die twee verhuis na hul nuwe huis in ’n sekerheidskompleks in Pretoria, waar Jan ’n kontrak met die Blou Bulle tot einde 2017 gesluit het. “Ek moet nog werk soek,” sê Lani, wat ’n BCom-graad in finansiële bestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Hulle het ook ’n week lank gaan wittebrood hou op Mauritius.

Op 23 is hulle nog bloedjonk. Maar Lani vertel reeds ’n jaar nadat hulle begin uitgaan het, het Jan op ’n bankie by die lughawe vir haar gesê: “Lani, as mens weet, dan weet jy.” En sy het vandat sy twee bakstene hoog is, gedroom van haar troudag. Hulle kon dus nie wag om die groot dag saam met 200 vriende en familie te vier nie.

“Dit was een van die mooiste oomblikke toe Lani, mooier as ooit, op die klanke van Peter Gabriel se ‘Book of Love’ na my aangestap kom,” vertel Jan later in ’n telefoon-onderhoud kort ná die troue. “My neef, dominee Ruan Serfontein, se boodskap uit Genenis 2:18-23 en Markus 10:7-9 het my diep geroer. Hy het onder meer gesê om te trou is van die mees spirituele dinge op aarde, want dit is wanneer man en vrou een word.”

LJ_-37 FOTO Kristi Agier

Jan erken sy hande was maar sweterig voor die tyd. “Maar toe sy eers langs my staan, was die stres verby. En ná my toespraak op die onthaal kon ek regtig ontspan.” 

Die troue het getuig van onderbeklemtoonde elegansie. Nes Lani daarvan hou. Haar lang ivoorkleurige blomgeïnspireerde kant-trourok met pêrels geborduur, van die Kaapse ontwerper Kobus Dippenaar, was klassiek. “Hoewel ek gewoonlik plat hakke dra, het ek vir die dag ’n paar stiletto’s gedra wat Kobus spesiaal vir my ontwerp het. Jan het gesê ek moet tog net soos ék lyk op die troue en nie allerlei dinge uitprobeer nie,” lag sy. O ja, hy het ook gesê sy moet tog net nie iets sing nie! 

Sy kon haar blonde hare letterlik laat hang by die onthaal. “Dit was een groot partytjie.” Toe die deure ná middernag sluit, het die mense steeds elke oomblik geniet, vertel sy.

LJ_-62 FOTO Kristi Agier

LJ_-34

FOTO Kristi Agier

Dit was ook kosbaar vir Jan om – weg van die oefenveld – met rugbyvriende soos Patrick Lambie, Siya Kolisi, Pieter- Steph du Toit, Lappies Labuschagne en Marcell Coetzee te kuier. Hy wonder eers hardop of hy moet sê watter bekendes daar was. “Jan hou nie van die celeb-ding nie. Hy het sy Facebook- en Instagram-profiele gesluit en is onaktief op Twitter. Glans en in-wees is nie sy maats nie. As mense soms op hom afpyl in ’n restaurant, raak hy skoon verbouereerd,” vertel Lani. 

Sy gee baie eer aan haar skoonma wat “so mooi werk” met die vier manne in haar lewe. “Sy weet net hoe om my skoonpa, Jan, en my twee swaers, Willem en Schoeman, te hanteer. [Willem, wat ook Boela genoem word, word op die oomblik deur die Vrystaatse Cheetahs aan die Griffons “geleen”.] Soms, selfs al weet sy dat sy reg en hulle verkeerd is, swyg sy. Sy glo dit is die sleutel tot vrede en harmonie.”

LJ_-26 FOTO Kristi Agier

LJ_-28 FOTO Kristi Agier

Lani moes dit ook aanleer. Toe die Springbokke in 2015 swak gevaar het in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland, het sy besef Jan raak kwaad as hy verloor. “My pa sê dis goed. ’n Goeie verloorder is ’n gereelde verloorder. As Jan kwaad is, moet ek hom uitlos.”

Jan is mal oor Lani se persoonlikheid. “Sy is sag en bederf my met die heerlikste kos. En sy is boonop aktief en avontuurlik soos my ma.” Lani was ’n leerder aan die Hoërskool Overberg op Caledon en hy op Grey Kollege in Bloemfontein toe hulle begin uitgaan het – dit was albei se eerste ernstige verhouding.

LJ_-70 FOTO Kristi Agier

“Ek het min van rugby geweet. Ná ’n paar rugbyklasse by Jan weet ek meer, maar ek kyk eintlik na hóm eerder as die spel. 

“My ma het altyd gesê jy moet die rugbyspelers vry en die akademici trou.” Dan keer sy gou: “Nie dat Jan nie slim is nie. Jan het ’n stille presence – as hy in ’n kamer instap, weet jy dis iemand spesiaals. Mense het dikwels ’n stereotipiese beeld van rugbyspelers. Almal is nie rowwe kuiermanne nie,” sê sy. Hy drink hoogstens twee biere op ’n partytjie. Sy geniet ’n glasie rooiwyn nou en dan.

Jan is ’n diep seun. In die begin van die verhouding het hy vir haar gesê sy is tweede in sy lewe. “Jesus is nommer een. Ek speel rugby uit dankbaarheid.” Hulle glo met geloof as die grondslag van jou verhouding kan jy nie sommer misluk nie. “Ons weet waarheen ons moet gaan in tye van nood,” beklemtoon Jan.

LJ_-52

FOTO Kristi Agier

LJ_-81 FOTO Kristi Agier

Kinders is op die agenda, maar ver op die horison, vertel albei. “Ek sien daarna uit om eendag pa te wees. Ons sal ons kinders graag aan alle sporte blootstel en dan moet hulle self besluit. Ek wil my kinders ook leer wat my ouers my geleer het,” sê Jan. Intussen praat Lani maar babataal met die vier worsies en drie rifrug-honde op die plaas. “Jan terg my vreeslik daaroor.”

Met ma Lizahn se raad voel sy gereed vir die toekoms: “Onthou altyd jy is uniek, so wees altyd jouself en moet nooit jou individualiteit vir enige man opoffer nie. Iemand wat jou werklik liefhet, sal dit respekteer.” 

Jan luister fyn en sê dan: “Ek wil haar altyd veilig laat voel, haar vriend wees, saam met haar oud word, geldelik na haar omsien, baie lag ... En ek sal haar altyd in haar beroep ondersteun.” Solank hulle net altyd beste pêlle kan wees, is hulle happy.

LJ_-84

FOTO Kristi Agier

Lees nou:

Bobby stap in Vernon se skoene

Hildegardt Whites en die orrelis van Leliefontein

Só bly 3 SA bekendes natuurlik mooi